‘Verlam, maar nie kwaad’

André Fourie, onder sy valskermvriende bekend as Attie, gesels oor sy lewe na die ongeluk. (Foto: Maroela Media)

“Mense is so kwaad vir die lewe. En vir wat? Ek is klaar met kwaad wees. Ek is klaar gesuffer.”

André Fourie (44) onthou nie veel van die dag wat sy lewe onherroeplik verander het nie.

Hy het daardie dag, Vrydag 12 Februarie vanjaar, op sy hoogtemeter gekyk kort nadat die vliegtuig by die Carletonville-lughawe opgestyg het. Dit het 700 voet gewys. Die vliegtuig, ʼn Atlas Angel, se enjin het nie genoeg brandstof gekry nie en die vlieëniers moes ʼn noodlanding doen.

Dit was ʼn harde landing en die ses valskermspringers in die vliegtuig is op die grond uit die vliegtuig geslinger. Hul beserings het gewissel van kopbeserings tot snye en gebreekte ribbes.

Fourie se nek is tydens die voorval by sy C6- en C7-werwels gebreek. Dit het hom verlam gelaat.

Hy het sowat twee weke na die voorval in die intensiewesorgeenheid van die Unie-hospitaal in Alberton wakker geword.

“Die enigste ding wat ek kon beweeg, was my oë.”

Fourie was gekoppel aan ʼn ventilator en ʼn voedingsbuis. Hy was meer as ʼn maand lank in die intensiewesorgeenheid en was ses weke lank aan die ventilator gekoppel. Hy kon mettertyd sy hande en arms begin beweeg en is van die ventilator afgehaal.

Enkele dae later het sy linkerlong egter platgeval en hy is weer vir meer as ʼn week in die intensiewesorgeenheid aan ʼn ventilator gekoppel.

“Ek het 51 dae lank net vir die dak gelê en kyk. Ek het lang gesprekke met God gehad. Ek het gevra hy moet my longe skoonmaak – en hy het.”

Drie dae later was sy longe skoon en hy is na die hoësorgeenheid oorgeplaas. Van daar het hy twee weke by ʼn rehabilitasiesentrum in Johannesburg deurgebring. Dit was egter peperduur en hy het na ʼn rehabilitasiesentrum in Pretoria geskuif waar hy twee en ʼn half maande lank verdere terapie ondergaan het.

Hy het steeds geen gevoel van net onder sy bors nie. Fourie kan voorwerpe tussen sy duim en wysvinger optel, maar het geen behoorlike greep in sy hand nie. Sy maagspiere het ná die ongeluk verdwyn, maar het mettertyd herstel.

‘n Uitbundige Fourie tydens ‘n valskermsprong. Hy het reeds meer as 5 600 spronge agter die blad. (Foto: Verskaf)

Fourie sê volgens sy neurochirurg kan dit enigiets van drie maande tot selfs meer as ʼn jaar duur vir die senuwees in sy lyf om te herstel.

“Ek glo 100% dat ek weer gaan loop. ʼn Mens moet positief bly. Jy waardeer nie altyd wat jy vantevore gehad het nie.”

Die moeilikste van sy nuwe lewe in ʼn rolstoel is Fourie se onvermoë om enigiets vir homself te doen. Sy versorger, Elliot Mahlakgane, is sy permanente metgesel. Mahlakgane help hom bad, in uit en die bed kom, die badkamer gebruik. Dit is ʼn frustrerende situasie vir iemand wat vantevore kwalik kon stilsit.

“In die hospitaal het ek geduld geleer,” sê hy.

Mediese rekeninge hoop op

Fourie saam met sy versorger en vriend, Elliot Mahlakgane. (Foto: Maroela Media)

Fourie, ʼn valskerminspringer van beroep, is sedert die voorval ook sy inkomste kwyt. Nie net moes hy aan ʼn nuwe lewe in ʼn rolstoel gewoond raak nie, die mediese rekeninge wat aanhou opstapel besorg hom slapelose nagte.

Voor die Covid-19-pandemie Suid-Afrika getref het, het Fourie in Mosselbaai gewerk. Hy is ʼn tandemmeester en kameraman en het valskerms vir ʼn bykomende inkomste gepak. Met die aanvang van die pandemie het die toeriste in die Wes-Kaap opgedroog en Fourie het na Gauteng teruggekeer waar daar minstens nog ʼn vraag na sy dienste was.

Sedert hy 18 jaar gelede die eerste keer ʼn valskermsprong gedoen het, was hy verslaaf. Die sprong wat hy op daardie dag in Februarie sou doen, sou sy 5 609de gewees het. Hy sou kamerawerk gedoen het, maar die noodlot het anders besluit.

Nou is sy eerste prioriteit om sy mediese rekeninge te betaal. Sy hospitaalplan het nagenoeg R1 miljoen van sy behandeling gedek, waarna dié kraantjie toegedraai is. Hy skuld steeds meer as R700 000 aan almal – van fisioterapeute, tot patologiedienste en die hospitaal.

“Waar kry jy R700 000 wat rondlê?”

Fourie het ook voltydse versorging nodig. Elliot Mahlakgane is deesdae sy permanente metgesel en versorger. Die twee het ʼn noue band en Mahlakgane help Fourie met alles – van bad tot rondbeweeg in die rolstoel. Snags moet hy elke vier ure gedraai word en dan help sy ouers, Dries (71) en Petra (75).

Hy het ook fantastiese vriende, sê Fourie. En dit is danksy hulle hulp dat hy onder meer kan bekostig om vir Mahlakgane te betaal. Hulle help om hom deur die tyd te dra.

Hy droom daarvan om net weer ʼn stort te neem, sê Fourie. Self. Sonder om van iemand vir hulp afhanklik te wees. Daarvoor moet die badkamer egter eers aangepas word. Dít kos geld.

“Jy kom oor jou skaamte. Jy moet,” sê Fourie.

“Ek kan nie meer na myself kyk nie. Ek wil loop en weer na myself omsien.”

Sy vriende het intussen vir Fourie ʼn skarefinansieringsfonds op die platform Back-A-Buddy begin, onder meer om hom te help om ʼn behoorlike rolstoel aan te skaf. ʼn Rolstoel wat pasgemaak is vir hom kos nagenoeg R53 000.

‘Moeilik, maar moontlik’

Fourie se vriende het intussen ‘n skarefinansieringsfonds vir hom begin. (Foto: Verskaf)

Fourie glo hy gaan weer loop, maar as dit nie vir hom gebeur nie, “gaan ek nie skree en huil en in ʼn bondeltjie sit nie. Ek vat die pakkie wat vir my uitgedeel word.

“Die pad vorentoe is moeilik, maar moontlik.”

Oor die ongeluk wat tot sy beserings gelei het, sê Fourie nie veel nie. “Was dit iemand se skuld? Dit is moeilik om te sê. Indien wel, hoe bewys jy dit?”

“Ek kan kwaad wees, maar dit gaan my niks help nie. Net positiewe denke gaan my help.”

  • Die Burgerlugvaarowerheid sê sy ondersoek na die voorval word gefinaliseer en behoort binne die volgende twee maande beskikbaar te wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Windhond ·

Voorspoed meneer, ek bewonder jou deursettings vermoe, – kan iemand asb vir my verduidelik hoekom die hoogte van n vliegtuig nog in voet en nie in meters gemeet word nie ?

Skyspy007 ·

Windhond, dit is die internasionale standaard. Lees bietjie meer oor ICAO dan sal jy verstaan

Tiptol ·

Fourie, ons kan almal iets uit jou positiwiteit leer. Dis wonderlik dat jy Elliot het om jou te help.

Pokkels ·

MM daar word onder die eerste foto na meer as 15 600 spronge verwys maar in die berig sou die hartseer dag sy 5 609de sprong?

Janice du Plessis ·

Dagsê Pokkels
Baie dankie vir jou kommentaar. Ons het die artikel intussen gewysig om enige verdere verwarring te voorkom.
Dankie! Groetnis
Janice
nms Maroela Media

Anoniem ·

Sjoe, dit moet baie van ‘n mens neem om weer so positief te wees as jou mobiliteit ingekort word.
Sterkte Mnr Fourie jy is ‘n voorbeeld vir baie.

Sluier ·

Ek preek baie keer vir mense om verantwoordelik op te tree siende onnodige risiko ten alle koste te probeer vermei. Vlieg, Motorfiets ensovoorts behoort nie die hoge risiko stokperdjie van n verantwoordelike mens te wees wat nog n gesin ook het om na om te sien nie … Gewaagte risiko is onverantwoordelik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.