Verlam ná duikongeluk: ‘Ons vat dit dag vir dag’

Rudi Kunz. Foto: Facebook

Daar lê nog ʼn lang pad van herstel voor vir Rudi Kunz (30), die man van Hoedspruit in Limpopo wat verlam is nadat hy op 1 April teen ʼn rivieroewer vasgeduik het.

“Dit is ʼn baie lang pad wat ons moet stap en ons vat dit net dag vir dag,” sê Hanlie Botha, Kunz se tannie. “Party oggende wanneer ek wakker word, sien ek daardie kind se gesig voor my en dan voel dit so onwerklik. Dit is regtig baie erg vir ons, maar ons weet dat elke gebed vir Rudi help.”

Maroela Media het vroeër berig Kunz het saam met ʼn groep vriende by die Klaseriedam gaan uitspan toe die ongeluk gebeur het. Melissa Swan, een van Kunz se vriende, het vroeër vertel sy was in die water toe Rudi van die oewer af in die dam geduik het. Toe hy ná ʼn rukkie opkom, het hy geen gevoel in sy lyf gehad nie en iemand moes induik om hom uit die water te haal.

Kunz is per ambulans na ʼn hospitaal in Nelspruit gehaas en later per helikopter na die Netcare Garden City-hospitaal in Johannesburg oorgeplaas. ʼn Skandering het getoon van sy boonste werwels het geskuif en hy het ook swelling op sy brein opgedoen weens die stamp teen sy kop.

Botha sê Kunz het sedertdien ʼn operasie ondergaan om die werwels weer in plek te kry, maar is tans steeds aan ʼn ventilator gekoppel wat hom help asemhaal. “Rudi se ma het gister vir my gesê hy kan 21 persent self asemhaal, so die ventilator moet nog die meeste van die werk doen. Hy is wakker, maar hy kan nie praat nie weens die pyp in sy keel,” het sy gesê.

Rudi Kunz. Foto: Facebook

“Sy ma het vir hom ʼn foto van die helikopter gewys wat hom na die hospitaal geneem het en het vir hom verduidelik wat gebeur het en dat hy ʼn operasie ondergaan het. Hy knip sy oë wanneer hulle met hom praat.”

ʼn Dreineringspyp help om die vog van Kunz se brein te dreineer om sodoende die drukking op sy brein te verlig. Voordat die drukking egter nie heeltemal weg is nie, kan dokters nie weet tot watter mate en hoe permanent sy verlamming is nie. “Ek dink Rudi het eintlik baie seerder gekry as wat ons onmiddellik besef het. Die stamp teen sy kop was erger as wat ons gedink het omdat almal aan die begin net op sy nek gefokus het.”

Botha het gesê hoewel dit nog nie duidelik is hoe lank Kunz nog in die hospitaal behandel sal word nie, weet die familie dat hy beslis intensiewe rehabilitasie sal moet ondergaan wanneer hy ontslaan word. Aangesien Kunz net ʼn hospitaalplan het, sal die familie self vir die rehabilitasie en alle ander buitehospitaalkoste moet betaal wat hulle derduisende rande uit die sak sal jaag.

Kunz se vriende het intussen ʼn fonds gestig om geld vir sy mediese koste in te samel. Daar sal ook op 4 Mei ʼn gholfdag in Nelspruit ter geldinsameling gehou word. Alle inligting oor die gholfdag en geldinsameling is op die Rudi Kunz Support Fund-Facebookblad beskikbaar.

Lees alle vorige berigte oor Rudi Kunz op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Liza ·

Moenie moet opgee nie, hou net aan glo, ons bid vir hom elke dag en hy is in ons harte……
Rudi moenie moet opgee nie, hou aan veg en glo en vertrou net, sterkte hoor…..

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.