Verlamde pa: ‘Ek weet hoekom dit moes gebeur het’

Matthys Roets maak Jonty Jacobs touwys met sy nuwe rolstoel. (Foto: Tania Heyns)

Die jong man in die rolstoel groet beleef die vertrek vol mense en stoot homself met sterk arms na die naaste tafel. Sy sesjarige dogtertjie maak haarself gemaklik op sy skoot. Sy arms is gespierd en sy bolyf opvallend goed gebou.

Dit is moeilik om te glo dat die 28-jarige Jonty Jacobs (28), ’n professionele armdrukker en klankingenieur, sowat vyf maande gelede in sy huis oorval, vir meters ver gesleep, herhaaldelik oor sy kop geslaan en eindelik twee keer geskiet is – dit alles ten aanskoue van die dogtertjie wat nou op sy skoot sit en alles om haar inneem.

Jonty, sy destydse verloofde Doreen, en Jonty se dogtertjie, Kiara, is op 20 Junie vanjaar in die vroeë oggendure op ʼn kleinhoewe in die Kameeldrift-omgewing in Pretoria oorval. Jonty is in die rug en arm geskiet waarna die koeël een van sy rugwerwels getref het. Albei sy longe het ook platgeval. Jonty is gevolglik in sy onderlyf verlam gelaat.

“Ek onthou net ek het gesmeek, ‘moenie aan Kiara raak nie, sy is al wat ek het’,” vertel Jonty vandag. Hy sê dat Kiara in gebroke Engels by die aanvallers gepleit het dat hulle haar pa moet los, aangesien “hy die enigste pappa is wat sy het”.

“Ek sal nooit vergeet hoe hulle vir Kiara gesê het ‘Moenie worry nie, sussie’.”

Jonty is sedertdien aan ʼn rolstoel gekluister wat hy deur die hospitaal ontvang het. Daarom het ’n span kundiges besluit om dié pa met sy onblusbare veggees en lus vir die lewe te help met ’n nuwe rolstoel wat geskik is vir ’n man van sy grootte.

Hy het Maandag ’n splinternuwe rolstoel ter waarde van R35 000 van Chairman Industries ontvang – ʼn skenking wat moontlik gemaak is in samewerking met Wiele500, ’n organisasie wat hom daarvoor beywer om mense met nuwe rolstoele te help wat deur ongelukke, soos motorongelukke en skietongelukke, verlam gelaat is.

Dit volg nadat die kunstenaar Mathys Roets, ’n ambassadeur van Wiele500, van Jonty se beproewing in die media gelees het. “Dit is vir my baie erg om sulke goed te lees. ’n Ou hou dit maar dop. Daar is niks so erg soos om ’n ander ou in my situasie te sien nie,” het Roets Maandag aan Maroela Media gesê.

Jonty Jacobs ontvang sy nuwe rolstoel ter waarde van R35 000. (Foto: Tania Heyns)

Roets vertel dat die kunstenaar Blackie Swart hom eendag gebel en gevra het of hy van iemand weet wat hom sal kan help met ’n rolstoel. Swart ken vir Jonty, aangesien hy dikwels vir hom klank doen tydens vertonings. Só is Jonty met Wiele500 in verbinding gebring.

Wiele500 het dadelik ingestem. “Wiele500 probeer mense help wat nog steeds ’n verskil wil maak. Ons noem dit ‘wiele bene’. So jy gaan nog steeds aan met jou lewe,” verduidelik Angie Green van Wiele500.

Jonty was dus die ideale kandidaat. “Hy gaan net aan – hy druk al klaar weer arm en doen klank. Hy is ’n ou wat ’n verskil kan maak. Die regte rolstoel gaan hom onmiddellik weer aan die gang sit.”

Roets vergelyk die regte rolstoel met ideale hardloopskoene vir die Comrades. “As jy met kerkskoene of hakskoene die Comrades gaan hardloop, gaan jy nêrens kom nie. ’n Rolstoel werk ook so. Vir ’n aktiewe jong ou soos Jonty is dit nodig om aktief te bly. Die oomblik wat jy dit van hom gaan ontneem, gaan hy ’n passasier word.”

Hy verduidelik dat Jonty met sy nuwe rolstoel, wat maar net 9,5 kg weeg, heeltemal onafhanklik sal kan wees. Dié stoel is heelwat ligter as die vorige een wat 17 kg weeg, en is spesiaal vir hom volgens sy spesifikasies en afmetings toegerus.

Jonty Jacobs by sy vriendin Leandrie Engelbrecht. pa Danie Jacobs, ma Wilma Jacobs en sy dogtertjie Kiara. (Foto: Tania Heyns

Viv Sierra, besturende direkteur van Chairman Industries, het Jonty se nuwe rolstoel van staal vervaardig en glo dat dié stoel ’n groot verskil in Jonty se lewe sal maak. “Dis belangrik om die regte rolstoel van die begin af te gebruik en seker te maak dat hy gemaklik in hom sit en sy postuur van die begin af reg is, andersins sal hy oor ’n paar jaar baie sukkel. Jonty is ’n groot en sterk man. So ek is gemaklik dat hy oor tien jaar nog dieselfde rolstoel sal gebruik. Mathys gebruik nou nog sy oorspronklike rolstoel.”

Jonty het Maandag gemaklik in sy nuwe rolstoel ingeskuif ten aanskoue van Kiara en sy familie en vriende.  Danie Jacobs, Jonty se pa, glo dat Jonty dit vir hulle maklik maak met sy positiwiteit en sy ywer om alles vir homself te doen. “Dit is tough ja, maar met God se genade gaan ons aan,” het Danie gesê.

“Al wat my gedryf het, is om te dink aan wat van my dogter gaan word. Dít is wat my sterk en aan die gang hou. As ek iets moet oorkom, wat gaan van my kind word?” sê Jonty.

Hy is terug by die werk en oefen weer. Hy beplan om weer arm te druk en vorentoe rekords te verbeter deur voertuie te sleep – ja, in sy nuwe rolstoel. “Daar is nie limits nie. Dit is wie ek is. Ek gaan nie gaan lê nie. Ek sal terugveg. My dogtertjie kan nog steeds met my stoei en armdruk. My lewe het nie gestop nie.”

Wilma Jacobs, Jonty se ma, erken egter dat sy nie die aanvallers sal kan vergewe nie. “Ek sal nie sê ek koester ’n wrok nie, maar ek is baie kwaad oor wat met my kind gebeur het. Hy verdien dit nie. Niemand verdien dit om so iets in hulle eie huis, hul veilige hawe, oor te kom nie.”

By Jonty is daar egter nie woede nie. “Nee. Ek het dadelik vrede gevind deur God,” sê hy terwyl sy voete bewegingloos in sy tekkies onder die tafel sit. “Ek weet hoekom dit moes gebeur. Ek het my kind beskerm.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

ZAR ·

Ek is dankbaar dat jou lewe gespaar is en dat jy geweier het om te gaan lê. Wel gedaan Jonty. Voorspoed vir jou.

Nadia ·

WOW… Bly altyd die mens wat jy is en jy sal ver kom in die lewe…. geluk met die nuwe wiele…

Anarchy ·

Jonty jy is n Hero, en jou dogtertjie sal altyd haat pa wat haar so beskerm het as haar Hero sien.

Ek wens net die wat dit aan julle gedoen het, hul dag ook kry.

James ·

NEE DIT MOES NIE GEBEUR HET NIE …. waar sit jy nou ?? Wat van jou toekoms? Maar ja ek is bly jou lewe is gespaar maar daar is GEEN REDE Hoekom dit moes gebeur behalwe dat SA in ANARGIE verkeer nie.

RG ·

Sterkte Jonty en Kiara. My hart breek vir hierdie klein mensies wie se lewens aan vlarde geskeur word met plaas aanvalle. Ek hoop ouers besef die onderliggende skade en tree daadwerklik op om genoegsame sielkundige hulp vir hulle te verkry.

MM/Afriforum kan hier nie dalk ook ‘n BackaBuddy fonds gestig word vir Kiara, soos met “Die Dros” geval nie. Sal graag iets wil bydra indien nodig.

Elsa ·

Vir Jonty het ek die grootste bewondering vir sy geloof, sy positiewe houding en die feit dat hy nie gaan lê het nie. Ek sien hom gereeld op videos op FB, want ek is vriende met iemand wat saam met Jonty se pa vir die Springbok Boere Band speel. Hulle speel gereeld by Oppi Stoep, iewers in Pretoria en Jonty speel soms ook saam met die orkes. Hier is ‘n video van die groep met Jonty op die tamboeryn.
https://www.facebook.com/danie.jacobs.184/videos/10156678519334941/UzpfSTE5NjY3MzkyMjY5ODE0OTU6MjE4NjkyMTQ3NDk2MzI2OA/

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.