Verlamde rugbyspeler raak wêreldwyd harte aan

Heinrich Ollie Terlanche en sy verloofde Chanel Supra. Foto: Liesl Photography / Facebook

Heinrich Ollie Terlanche en sy verloofde Chanel Supra. Foto: Liesl Photography / Facebook

Die storie van ʼn jong rugbyspeler van Gauteng wat na die Wes-Kaap verhuis het om naby die liefde van sy lewe te wees en nou verlam is ná ʼn besering tydens ʼn rugbywedstryd, raak mense se harte wêreldwyd aan.

Dit is veral Heinrich Terblanche (24) se veggees, geloof, lewenslus en positiwiteit om weer te kan loop wat sy verhaal nog meer merkwaardig maak.

Terblanche, ook bekend as Ollie, is aanvanklik van Pretoria en het aan Hoërskool Eldoraigne matrikuleer, waarna hy as voorspeler in provinsiale rugby begin uitblink het. Hy het ook ʼn jaar lank rugby in Nieu-Seeland gespeel.

Hy het verlede maand aan Chanel Supra verloof geraak en het na George in die Wes-Kaap verhuis om nader aan haar te wees. Daar het hy by die SWD Arende-rugbyspan aangesluit.

Neil Minnaar, sy bestuurder en die familie se woordvoerder, het Woensdag aan Maroela Media gesê Ollie het op Saterdag 24 Januarie as stut vir die SWD Arende-vyftiental uitgedraf in ʼn kragmeting teen die Evergreens. Die twee spanne het mekaar die stryd aangesê in ʼn voorwedstryd van die Stormers en die SWD Arende op ʼn volgepakte Outeniquapark.

“Hy het sy nek beseer toe hy vroeg in die tweede helfte gesak het om te skrum, en nie weer opgestaan nie,” het Minnaar gesê. “Hy het gesê hy kan nie sy bene voel nie en was van sy middellyf ondertoe verlam. Paramedici het hom na die George Mediclinic gehaas waar hy ʼn operasie ondergaan het.”

Ollie is van daar na die Vincent Palotti-hospitaal in Kaapstad oorgeplaas waar hy weer verlede week Dinsdag weer ʼn operasie ondergaan het.

“Hoewel hy steeds verlam is, toon hy goeie vordering. Hy het die naweek weer gevoel in sy laerug begin terugkry wat ʼn goeie teken is.”

Minnaar het gesê daar lê egter nog ʼn lang pad na herstel, en baie rehabilitasie en fisioterapie vir Terblanche in die hospitaal voor.

“Dit is nog te vroeg om te weet wanneer hy ontslaan gaan word. Ons vat dit dag vir dag, maar sy veggees is inspirerend. Hy is baie positief en vol vertroue dat hy weer sal loop,” het Minnaar bygevoeg. “Ollie het nog nie een keer sedert die besering gekla of gevra hoekom dit met hom gebeur het nie. Hy is in ʼn goeie luim en praat en lag.”

Minnaar het gesê dit is verblywend om toe sien hoe aanhangers van regoor die wêreld hom ondersteun en boodskappe van bemoediging stuur.

Sy Facebook-blad word ook oorval met gebede en wense van beterskap. Almal wat hom ondersteun is dit eens dat hy weer gaan loop.

“My liefie jy gaan hier opstaan, en letterlik en figuurlik hardloop vir die Here! When the devil said check mate, my God said: I still have one more move,” het Chanel op Ollie se Facebook-blad geskryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Diana ·

Baie sterkte ! Bly net positief en jy sal vinnig herstel. Waar daar n wil is is daar n weg. Bid vir jou en jou veloofde en die res van jou familie.

ladybug ·

Jy is ‘n inspirasie vir baie ander! En JY sal weer loop!

Beatrix ·

Life is too short to be anything but Happy”” Falling down is a part of life….. GETTING BACK UP… IS LIVING” Met God se genade is: ALS MOONTLIK… Sterkte en mag jy elke dag Sy krag hervaar…. Beatrix Nelspruit

Pieter Joubert ·

Weet waardeur jy gaan. Sal jou in ons gebede hou. Bid dat jy volkome sal herstel.
Pieter Joubert, Roodepoort

Sandy ·

Baie sterkte Ollie, jy het saam my seun Leeus rugby gespeel en jy was altyd ‘n blink ster!! Jy is in ons gedagtes en gebede xxx

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.