Verlamde rugbyspeler word pa

Ollie en Chanel Terblanche by hul babaseuntjie, Lian. (Foto: Verskaf)

“Ons was so oorstelp van vreugde en trots dat ons in daai oomblik nie eens woorde vir mekaar gehad het nie.”

Só sê die voormalige rugbyspeler Heinrich “Ollie” Terblanche (31) oor die onlangse geboorte van hom en sy vrou, Chanel (30), se babaseuntjie, Lian.

Hoewel ʼn ernstige rugbybesering Terblanche sewe jaar gelede verlam gelaat het, is Lian natuurlik verwek – ʼn wonderwerk wat die egpaar glo alleenlik van God af kom.

“Die Here het dit vir ons moontlik gemaak om ons bondeltjie liefde natuurlik te verwek.”

Lian het sy opwagting Sondag by die George Mediclinic in die Wes-Kaap gemaak en het by geboorte 3,68 kg geweeg. ʼn Keisersnee was aanvanklik vir 2 Maart geskeduleer, maar toe verras klein Lian sy ouers ʼn paar dae vroeër.

Terblanche sê dit was ʼn emosiebelaaide dag, veral omdat alles toe so vinnig en onverwags gebeur het.

Dit was egter vir hom swaar om te sien hoe die epiduraal voor die keisersnee Chanel se onderste ledemate verlam, aangesien hy in daardie oomblik ook aan sy eie situasie gedink het.

Ollie Terblanche hou sy seun, Lian, vas. (Foto: Verskaf)

“Dit was rof om haar so te sien.

“Ons het eers saam gehuil, maar toe Lian eers uit is en ons hóm hoor huil, het ons net geglimlag en verstom gestaan. Ons was oorweldig met emosies.”

Terblanche sê sy vrou is ʼn superheld.

“Ek beskou haar nog altyd as my held. Sy help my met alles en was vir lank ná die ongeluk my arms én bene. Nou, nadat sy ons seuntjie in die lewe gebring het, besef ek sy is ʼn superheld.”

Die egpaar is tans by hul huis in George waar hulle gesinstyd saam met hul nuweling deurbring.

“Ons is so verlief op hierdie klein ou lyfie. Ons is nog steeds in verwondering en staar elke aand vir hom as hy slaap. Die voel nog onwerklik. Ons is so gelukkig.”

Maroela Media het vroeër berig dat Terblanche op 24 Januarie 2015 sy nek gebreek het toe hy as stut vir die SWD Arende-vyftiental in ʼn kragmeting teen die Evergreens uitgedraf het. Terblanche het sy nek in ʼn skrum gebreek en was daarna van sy middellyf af ondertoe verlam.

Klein Lian Terblanche. (Foto: Verskaf)

Te danke aan sy vasberadenheid, geloof, harde oefening en die hulp van sy “superheldvrou” kan Terblanche ná sewe jaar al kort entjies loop. Hiermee help Chanel hom en hy maak ook van ʼn loopraam en krukke gebruik. Hy gebruik nog steeds hoofsaaklik sy rolstoel om in hul huis rond te beweeg.

“Ons beskou elke verbetering as ’n seën.”

Hy sê Lian se koms dien nou as ekstra motivering om eendag weer te kan loop.

“Ek hoop om eendag na my kind toe te kan stap en hom op te tel.”

Terblanche sê hoewel hy sy besering tydens ’n rugbywedstryd opgedoen het, sal hulle Lian nooit weerhou om aan sport deel te neem om sy drome na te jaag nie.

Chanel en Ollie Terblanche kort voor Lian se geboorte. (Foto: Verskaf)

“Ons sal hom ondersteun in alles wat hy aanpak en elke oorwinning saam met hom vier.

“Ons hoop ook om alles wat ons as ’n paartjie die afgelope paar jaar geleer het aan hom oor te dra. Ek en Chanel was maar pas verloof toe die ongeluk gebeur het en moes vinnig grootword. Ons moes leer om mekaar en die klein dingetjies in die lewe te waardeer.”

Terblanche sê sy vrou se onbaatsugtige ondersteuning die afgelope jare herinner hom aan hoe Jesus Sy eie lewe vir die mensdom neergelê het.

“Sy lê absoluut haar lewe vir my neer omdat sy my so liefhet. So sal ons ook ons lewens vir ons seuntjie neerlê.”

Terblanche is steeds in die koffiebedryf en aan die stuur van sy eie handelmerk, Rise Coffee. Chanel is ʼn onderwyseres.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Racheltjie Debeer ·

Baie geluk met jul seun se geboorte. Julle is voorwaar ‘n voorbeeld van hoe ons mekaar moet liefhê. Onvoorwaardelik! Mag julle baie geseënd wees.

Tanya ·

Baie Geluk julle 2’tjies, julle storie bewys beslis dat egte liefde alles oorwin!

Marcello ·

Baie geluk, en ons as die inwoners van George is so trots op julle, mag jul kleinding julle net vreugde verskaf.

Karina ·

Baie geluk met jul bondeltjie vreugde. Seenwense vir die toekoms. Heinrich, gebede dat jy wel eendag saam met jou seun sal kan loop.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.