Verlate babaseun se ouers gesoek

Die baba wat verlate langs ‘n treinspoor gevind is. Sy gesig word bekendgemaak in ‘n poging om sy ouers op te spoor. Foto: Verskaf deur SAPD

Die KwaZulu-Natalse polisie het hulp van die publiek versoek om die ouers op te spoor van ʼn een week oue babaseuntjie wat verlate langs ʼn treinspoor in Embo in die provinsie gevind is.

Kapt. Nqobile Gwala, woordvoerder van die polisie, sê die baba is op 29 Desember verlede jaar deur ʼn verbyganger gevind nadat hy gehoor het hoe ʼn baba uit die bosse langs die treinspoor huil. “Hy het besluit om te kyk waar die geluid vandaan kom en tot sy verbasing die seuntjie toegedraai in ʼn blou-en-wit-kombers gevind. Onder die kombers het die seuntjie ʼn wit babakruipbroekie aangehad,” sê Gwala.

Die man het die seuntjie saam met hom geneem en die polisie in kennis gestel. Die baba is na ʼn hospitaal geneem om ondersoek te word en hy is ongedeerd en gesond bevind. Hy is daarna in ʼn plek van veiligheid geplaas.

Sedertdien probeer beamptes van die Pinetown-eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele oortredings die baba se ouers opspoor, maar tot dusver sonder welslae.

Gwala het ʼn beroep op die publiek, spesifiek die gemeenskappe van Hillcrest en die omliggende gebiede, gedoen om na vore te kom met inligting wat kan help om die kind se ouers op te spoor. Enige inligting kan aan AO Sihle Ntuli by 079 502 9113 of 031 325 5001 of Stop Misdaad by 0860 010 111 deurgegee word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Vra maar net ·

Die dros verkragter is hoofnuus.om n kind weg te gooi waar pas dit in? Ons hoor nooit dat die ma of dan die ouers in die hof verskyn en geen protes aksie teen die moordenaars nie.

Veronica ·

Weggooi kind , Optel kind . . .
Gaan my verstand te bowe hoe n Mens jou eie vlees en bloed so kan weggooi met die hoop
” dit ” verdwyn . . . hoe draai jy om en stap net weg en geniet jou etes en bed daai aand?
Laat my dink aan Hagar die Egiptiese slavin wat met haar seun by Abraham die woestyn ingevlug het en toe die water en kos opraak, het sy haar kind onder een van die bosse neergewerp en geloop en op n afstand gaan sit, want sy het gesê sy wil die dood van haar kind nie aanskou nie. Sy het geween en toe hoor GOD die stem van die seun . . . en GOD het deur n Engel aan Hagar gesê dat HY die seun tot n groot nasie sal maak .
Het die Ma van die weggooi kindjie nie dalk ook iewers weggekruip in die bosse om te kyk of iemand op haar kind gaan afkom en hom optel en wegvat voor hy sterf nie , of het sy hom weggegooi met die doel om te sterf.
Dis verskriklik, mag GOD se hand op die seun rus!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.