Verlengde registrasieperiode by universiteite verwelkom

Elleck Nchabeleng, die voorsitter van die staande komitee oor onderwys, tegnologie, sport en kultuur in die parlement het die aankondiging verwelkom van sommige universiteite wat hul registrasietydperk tot die einde van Maart 2021 verleng het.

Nchabeleng het gesê alle universiteit moet in hul spoor volg, aangesien dit “menslik, verstandig en ʼn daad van Ubuntu sal wees”.

“Gegewe die uitdagings en vreemdhede van hierdie akademiese jaar maak dit absoluut sin om studente genoeg kans te bied om deel te word van die universiteitsgemeenskap. Die komitee is bekommerd oor bewerings dat studente akademies uitgesluit word en nie kan registreer nie.”

Die komitee doen ʼn beroep op die nasionale finansiële hulpskema vir studente (NSFAS) om finansieringsaansoeke spoedig te prosesseer, veral vir eerstejaars en NSFAS-gefinansierde studente. “ʼn Erkenning van skuld kan aangegaan word met diegene wat nie kwalifiseer nie,” het Nchabeleng bygevoeg.

Die departement van hoër onderwys het vandeesweek aangekondig dat hy sy begroting sal aanpas om seker te maak dat geen student, wat vir NSFAS kwalifiseer, finansieel uitgesluit word en dus nie kan registreer nie.

Nchabeleng het gesê NSFAS-finansiering vir die jaar moet fokus op bystand vir aanlyn leer en onnodige toelae soos reis moet opgeskort word. ʼn Akkommodasie-toelaag moet slegs toegestaan word waar dit werklik nodig is.

“Die komitee veroordeel alle vorme van vandalisme op universiteitskampusse en alle vorme van uitlokking van wetstoepassers. Die komitee veroordeel ook die gebruik van mag teen betogende studente,” het hy gesê. Hy doen ʼn beroep op polisiebeamptes en kampussekuriteit om nie uitermatige mag toe te pas nie, omdat kampusse veilige leerruimtes moet wees.

Intussen het Abigail Moyo, woordvoerder van die vakbond Uasa, die besluit verwelkom dat ʼn bykomende R7 miljard beskikbaar gemaak sal word aan NSFAS. “Ons kan onsself nie die teleurstelling indink van studente wat van tersiêre onderrig uitgesluit word weens finansies nie, toe hulle – net ʼn paar dae voor die matriekuitslae, gehoor het dat daar dalk nie bystand van NSFAS sal wees nie. Te veel Suid-Afrikaanse studente beleef nog finansiële kwessies wat hul vordering by hoër onderriginstansies belemmer. Die R7 miljard behoort dié gaping te vul.”

Die vakbond is egter teleurgesteld oor die manier hoe die regering die kwessie tot dusver hanteer het. “Ná jare se gesprekke oor studenteskuld, is daar steeds nie enige praktiese oplossings nie. Werkloosheidsvlakke is die hoogste ooit en die jeug verteenwoordig die leeue-aandeel van die werkloosheidsmark. Dit is dieselfde jeug wat nie kan registreer om verder te studeer nie of die nodige vaardighede kan aanleer om ʼn betekenisvolle bydrae te lewer tot ons ekonomie nie.”

Moyo sê Uasa het herhaaldelik die regering versoek om korrupsie in regeringsinstansies uit te roei en dat dié geld aangewend word vir noodsaaklike bedrywe, soos onderwys.

“Uasa maan die regering om studentefinansiering in ʼn ernstige lig te beskou of die gevolge daarvan te beleef. Ons land se jeug word gereeld beskryf as ʼn tydbom wat gereed is om af te gaan. Studentebetogings wat in oproer verander en voorvalle soos die afsterwe van Mthokozisi Ntumba tydens die Wits-studentebetoging in Braamfontein hierdie week, is onaanvaarbaar. Finansiële hulp aan studente wat dit verdien sal help om sulke tipe voorvalle te verhoed.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Kobus ·

Wat is volgende? Geen take,geen toetse geen eksamens en dan grade? Die studente wil alles verniet ontvang,hulle stel die voorwaardes en die universiteite moet maar net eenvoudig toegee. Die studente vereis gratis onderwys maar dan brand en verwoes hulle die instellings. Ek verstaan nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.