Verlenging van amnestietydperk versoek

Argieffoto: SAPD

Die familieboerorganisasie Saai het Woensdag ’n skrywe aan Bkehi Cele, minister van polisie, gerig waarin daar versoek word dat die sperdatum vir die vuurwapenamnestie met ’n verdere drie maande uitgestel word.

Dít nadat sommige lede van Saai tot sewe keer na polisiestasies moes terugkeer en etlike ure wag om hul aansoeke te laat verwerk. In sommige gevalle is dit steeds nie afgehandel nie.

Die organisasie meen die huidige afsonderingsregulasies, die vrees vir verspreiding van Covid-19 en polisiebeamptes wat weens die virus afwesig is, is besig om die amnestietydperk vir vuurwapenlisensies in die wiele te ry.

Saai wys daarop dat polisiestasies op die platteland dikwels nie genoeg van die voorgeskrewe vorms het wat benodig word om vir amnestie aansoek te doen nie. Beurtkrag bring ook natuurlik mee dat rekenaarstelsels gereeld van lyn af is terwyl die afwesigheid van die nodige beamptes die amnestieproses verder ontwrig.

Dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai, sê verder die organisasie is bekommerd oor die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se kapasiteit om die amnestie-aansoeke in ’n billike tydperk te verwerk en die korrekte vuurwapens ongeskonde aan die regte eienaars terug te besorg.

“Een van die grootste struikelblokke is die vereiste dat vuurwapens vir die duur van die amnestieproses by die SAPD ingehandig moet word. Met die hoë landelike misdaadsyfer en toename in plaasaanvalle, veediefstal en stroping van oeste en wild maak dit egter nie sin om boere ongewapend op hul plase vir lisensiëring te laat wag nie. Saai se voorstel dat boere hul wapens moet hou en slegs laat inneem wanneer die SAPD vir ballistiese toetsing gereed is, het tot dusvêr op dowe ore geval,” sê die organisasie Donderdag in ’n verklaring.

Saai beveel vanweë die waarde van vuurwapens en veral duur jaggewere vuurwapeneienaars aan om foto’s van hul vuurwapens te neem as bewys van die toestand waarin die vuurwapens was toe dit ingehandig is.

De Jager sê Saai hou die amnestieproses nougeset dop en staan gereed om die SAPD vir administratiewe geregtigheid en vir die terugbesorging van wapens verantwoordelik en aanspreeklik te hou. Vuurwapeneienaars wat bekommerd is dat hulle in die amnestieproses te na gekom word, kan Saai by 066 071 6094 skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Werner ·

Nie Duitsland of Kanada kon hierdie sisteem volhou nie.Natuurlik het hierdie klomp van ons nou weer gedink hulle sal die wereld wys.Hierdie is in elkgeval net weer n geld melk sisteem wat in elkgeval besig is im in duie te stort.Blykbaar le die aansoek forms die gange vol hulle sal dit nooit kan afhandel nie.Kon dit skaars doen sonder corona nou val die appelkar om

SomeOne ·

bietjie van ‘n flou verskoning, vorms SAPS522 en SAPS522(a), kan van die internet afgelaai word

Bernard ·

Malligheid om jou vuurwapen Vir SAPS te gee. Khoebaai Meraai – ek’s op pad Cape Flats toe

Hennie J ·

En so sal hulle voortgaan om ons te ontwapen en so sal ons voortgaan om hulle tee te staan. Iewers moet iets breek en ek weet n boer breek nie!!!!

Pieter J ·

Ek wonder of Bheki Cele by ons huise gaan opdaag met sy taakspan om ons te arresteer as die amnestie tydperk verby is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.