Verlenging van ramptoestand ‘blatante magsvergryp’

(Foto: Twitter)

Die DA-leier John Steenhuisen het die regering se besluit om die ramptoestand weer te verleng sterk veroordeel.

“Laat ons dit duidelik stel: Dit is ʼn ooglopende magsvergryp. Die ramptoestand verwyder doelbewus parlementêre oorsig. Dit laat die regering in wese toe om ʼn diktatorskap te hê en nuwe wetgewing te maak wat mense se lewe fundamenteel raak sonder dat hulle die parlement daaroor hoef te raadpleeg,” sê Steenhuisen.

ʼn Ramptoestand is in Maart vanjaar in reaksie op die Covid-19-pandemie in Suid-Afrika aangekondig. Hoewel afsonderingsregulasies sedertdien verslap is, geld talle streng maatreëls steeds. Daar is boonop wêreldwyd toenemende teenkanting teen regerings se besluit om inperkingsmaatreëls af te dwing.

Steenhuisen sê die verlenging van die ramptoestand het niks met die virus te doen nie.

“Suid-Afrika het onlangs nagenoeg 10 Covid-19-sterftes per dag aangeteken in ʼn land waar die gemiddelde sterftekoers van alle oorsake veel meer as 1 200 is.

“Sowat 40 mense sterf daagliks op die land se paaie, maar ons gee nie die regering buitengewone magte om ons padnetwerk te sluit nie.

“Dit is suiwer opportunisme deur ʼn party wat vasbeslote is om elke aspek van mense se lewe te beheer. Dit is ʼn teen-demokratiese stap wat ons ekonomiese herstel gaan kniehalter deur beleidsekerheid te verminder en deur ʼn voortsetting van die regering se irrasionele en ondoeltreffende afsonderingsmaatreëls.”

Steenhuisen sê die regering gebruik die tekortkominge in die Wet op Rampbestuur. Die DA betwis reeds die wetgewing in die hof.

“Die werklike ramp in die land is die steierende armoede, werkloosheid en ongelykheid wat ongebreideld toegeneem het weens ons ramp van ʼn staat en sy rampspoedige, uitgerekte inperking.”

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het die afgelope week ʼn beroep op wêreldleiers gedoen om nie inperkingsmaatreëls as primêre beheermetode teen Covid-19 te gebruik nie. Volgens die WGO het dié gebruik oor die algemeen slegs armoede tot gevolg gehad.

Steenhuisen sê Suid-Afrika se inperking het veel meer skade as goed gedoen. Hy sê die maatskappy Discovery raam dat sowat 16 000 Covid-19-sterftes moontlik deur die afsonderingsmaatreëls gered is. Hy sê die maatskaplike koste is egter katastrofies.

Hy sê pleks daarvan dat die ANC erken watter skade hy aan mense se lewens aangerig het, wil hy sy magte uitbrei.

Die DA doen ook ʼn beroep op mense om ʼn algehele opheffing van die ramptoestand te eis en te vra dat die verbod op internasionale reis, beperkings op die verkope van alkohol, beperkings op normale skoolbedrywighede en die aandklokreël geskrap word.

“Die regering is die grootste gevaar vir Suid-Afrika se welstand. Enigiets wat hom meer mag gee, moet teengegaan word,” sê Steenhuisen.

Pres. Cyril Ramaphosa maak later vandag die regering se ekonomiese herstelplan bekend en Steenhuisen sê hy behoort die ramptoestand dadelik op te hef.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

21 Kommentare

jongste oudste gewildste
Magda

Ramaphosa lees net AF wat hy kry van die “eintlike” Leiers soos Dlamini (Kopdoek) Onbevoegde Zuma – Hy is nie MANS genoeg om teen hulle op te staan nie Ruggraatlose Leier dit is wat hy is.

Persheks Adri

Die werklike ramp is ANC! Hulle misbruik hulle mag, stel dubbele standaarde en reëls vir elke ras en die lys gaan aan. Ons kort ‘n nuwe kaptein aan die stuur van sake soos in 26 jaar terug al! Tsek ANC tsek man!

JohanR

Die ANC regering is net EEN GROOT GRAP! Het laanklaas geluister na ‘n ANC, en veral na NDZ. Ek gaan nou aan met my lewe, Ek staan op, ek gaan winkels toe, ek gaan fliek toe, ek gaan kuier by familIe en vriende, en hulle by my, ek ry waar ek wil….sjoe is 25de Maart! Ek wag nou net vir 2021 om die ANC narre uit te stem.

Nie Verbaas

Kyk net na die ou gesiggie wat verlenging van inperking bekend gemaak het. Mens verstaan dan alles.

Adam Adriaan

Ja DA julle kan kwiek en kwak soos wat julle wil, sê wat julle wil, dit is waar alles begin en eindig. Daar is geen konstruktioewe plan/poging , om die magsvergryp te stuit of te keer nie. Julle skreeu wind op. die Linkse Liberale Kommuniste maak en smaak soos hulle wil. Op hierdie staduim is hulle so te sê onaantasbaar. Hulle kan net gestuit word deur ‘n radikale ommekeer in die denke en pshige van hul ondersteuners. Om dit te bewerkstellig is so te sê onmontlik. Die Afrika kultuur en hulle wyse hoe hulle oppereer verleen dit nie daartoe, om… Lees meer »