Verlief en verloof ná die groot hartseer

Jonas Nilsson vra Mariandra Heunis die groot vraag. Foto: Reint Dykema

“Hierdie belofte wat die Here vir my gemaak het, het so vinnig waar geword dit het sommer my asem weggeslaan.”

Só het Mariandra Heunis gesê nadat sy Donderdag verloof geraak het aan die Sweedse aktivis Jonas Nilsson.

Mariandra se man, Johann, is op 1 Oktober 2016 tydens ʼn aanval by die gesin se huis op ʼn kleinhoewe in Kameeldrift, noordoos van Pretoria, voor haar doodgeskiet. Mariandra, wat in dié tyd agt maande swanger was, en hul drie dogtertjies het die aanval oorleef. Die egpaar se seuntjie is vyf dae ná Johann se begrafnis, op Mariandra se verjaardag, gebore.

Mariandra het verlede jaar in ʼn aangrypende brief vertel oor die gebeure van dié aand wat haar en haar gesin se lewe handomkeer verander het. Sedertdien is sy nou betrokke by bewusmakingsveldtogte oor plaasaanvalle en het sy al op verskeie geleenthede haar traumatiese ervaring en haar storie van hoop gedeel.

Mariandra was heeltemal uit die veld geslaan toe Jonas op een knie gaan om haar te vra om met hom te trou. Foto: Reint Dykema

Mariandra het weer liefde gevind nadat sy en Nilsson mekaar in Januarie vanjaar leer ken het toe hy ʼn dokumentêre fliek oor plaasmoorde in Suid-Afrika kom maak het en hy ʼn onderhoud met haar gevoer het. Nilsson is ook ʼn politieke wetenskaplike.

“Ons het ná die onderhoud so bietjie kontak behou en hy was ʼn paar keer daarna weer in Suid-Afrika en dan het ons bymekaargekom. Ons het na elke besoek meer en meer gesels en ek is drie weke gelede Swede toe waar ek ʼn spreker by ʼn konferensie was.”

Nilsson het saam met Mariandra teruggekeer na Suid-Afrika om haar by te staan met die hofverskyning van Johann se vermeende moordenaar. Justice Sethlangu het op 15 Augustus in die hooggeregshof in Pretoria verskyn en die saak is tot Desember uitgestel.

Mariandra en Johann Heunis. Foto: Verskaf

“Ek sou moes getuig het en Jonas het saamgekom om by my te wees.” Volgens Mariandra het sy nie verwag Nilsson sou die groot vraag vra nie, maar is sy baie bly en dankbaar. Nilsson het dit Donderdagaand gedoen tydens die premiere van een van sy dokumentêre rolprente.

“Dit het die wind uit my seile gehaal. Ek het nie in my wildste drome gedink ek sou so vinnig weer liefde vind nie. Ek het baie vinnig na wat gebeur het besluit om daaraan te werk om gelukkig te wees en vir my en my kinders ʼn mooi lewe te maak. Dit het onverwags en vinnig oor ons pad gekom, maar so vinnig deel geword van ons normaal.”

Volgens Mariandra het sy nadat sy vir Nilsson ontmoet het besef hoe eensaam sy eintlik voel en dat sy niemand het om mee te praat nie. “Die lewe gaan aan – dit is die hartseer, maar dit is ook die hoop. Dit was ons gehad het voor Johann se dood is ons ou lewe. Hy kan nie terugkom nie.”

Mariandra Heunis saam met Mieke, Mischa, Majandré en AJ. Foto: Verskaf

Mariandra sê die belangrikste ding is dat haar kinders, Mieke (8), Misha (6), Majandré (wat in September vier word) en AJ wat binnekort sy tweede verjaarsdag vier, gelukkig is. “Die kinders is baie erg oor Jonas en hulle is baie lief vir hom. Ek het snaaks genoeg aan die begin van die jaar gesê ons nuwe lewe begin nou en die Here het dit waar gemaak.”

Mariandra bly saam met haar kinders in Centurion en Nilsson sal vir eers voortgaan om tussen Suid-Afrika en Swede te pendel. “Ons beoog om nog hier te bly. Ek is nog baie besig met die bewusmaking rondom plaasmoorde en wil dit nie los nie.”

Volgens Mariandra het Nilsson nie kinders van sy eie nie, maar het hy reeds ʼn hegte band met haar kinders. Die paartjie het nog nie oor ʼn troudatum gesels nie. “Die realiteit sink nog in,” lag sy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

Liza ·

Wonderlik! So dankbaar die seer het jou nie onder gekry nie, daar is altyd hoop en dan kom liefde so onverwags! Baie geluk!!!

Absoluut ·

Die lewe gaan oor keuse, jy kan kies of die tragedie jou sink of laat blom en jy blom en ek is saam jou en almal dankbaar. Gebede word verhoor, mag jul ‘n wonderlike gesin wees.

Alvina Swartz ·

ek huil sommer weer van oor af, maar die keer van blydskap, baie bly vir julle almal, sterkte!

Anoniem ·

Tweede kanse kom, wees goed vir mekaar ?? ‘n Goeie begin op die nuwe LEWE Baie geluk ??

Celtis Africana ·

Wat n pragtige verhaal met n wonderlike einde!
Wat n pragtige roeping om te waarheid vas te vang op film.

Maryn ·

Dit is ongelooflik wonderlike nuus! Julle is so ‘n mooi gesin en ons wens julle al die Vreugde en Vrede toe wat net van God kan kom!

humor ·

n Baie treffende verhaal van hoe ons VADER steeds in die donkerste tye van ons lewe met ons is en hoe Hy die lewe weer in n vreugdefees kan verander.

Mickey ·

Net n paar weke nadat Mariandra se man oorlede is het ek haar by Mall@reds raakgeloop. Ons het sommer net begin gesels. Sy het het vir my haar storie daar sommer inni mall vertel. Sy het 2 van haar dogtertjies by haar gehad. My hart was nog nooit so seer gewees vir iemand nie. Mariandra jy is n pragtige mens. Baie mense kan by jou leer. Om weer op te staan en die besluit te neem om gelukkig verder te lewe is die beste besluit wat enige persoon kan maak.

Carlien ·

Opreg bly vir jou.. Niemand verdien wat jy deurgemaak het nie.. Ons mense se grootste behoefte is om liefgehe te word, en ek is so bly jy het weer n maatjie wat jou kinders aanvaar en vir jou lief is.. Koester dit en geniet jou lewe voorentoe …

Johanna ·

Inniglik bly vir julle. Mag God julle pad saam ryklik seen.

Theo ·

Pragtige sprokie storie, ek is ook bly dat sy n man soos Jonas Nilsson kon kry wat so veel doen om in Swede/ Europa die mense in te lig oor die wreedheid waaronder ons Boere gebuk gaan. So ironies dat n Sweedse burger en aktivis dit namens ons doen, juis agv die feit dat in die verlede die Sweedse Regerings so pro ANC was en duisende Rande aan die organisasie geskenk het. Vandag sit hulle self met n immigrasie probleem.

Dirk Strauss ·

Dis fantastiese nuus! Daai kindertjies het defnitief n vaderlike figuur in hulle lewe nodig, en mamma het ook iemand nodig wat haar kan bystaan. Baie voorspoed en geluk vir julle lewe vorentoe!

Piet ·

Othou net om vir jou aanstaande te se dat sy werk baie waardeer word (as jy dalk MM lees). Soms hou ons eie mense hulle blind vir hierdie kanker wat op ons plase ontvou. Ek dink hy is n yster. Sterkte vir julle!

Kalahari Kind ·

Ek stem! Sê asseblief vir hom sy harde werk word raakgesien en waardeer. Ek het heelwat van sy onderhoude en video clips gesien en dink hierdie is ‘n geseënde band tussen twee goeie mense.

Anje ·

ek het al baie gewonder oor waar sy en haar familie hul nou bevind. Hoe dit gaan… So bly vir gelukkige nuus!

Anton ·

Baie geluk aan julle,Jonas en Mariandra!
Wat n wonderwerk – die Here bring jou n sterk man wat verstaan waardeur jy is en wat weet hoe sterk jy is. Julle gaan so oorloop van geluk soos die Here julle seen!

Albaster ·

Dankie vir julle goeie werk en mag julle net voorspoed vorentoe beleef.

jakes ·

So bly dat die vrou weer nuwe betekenis in die lewe kon vind. Sy is n pragtige mens met pragtige kinders. Baie geluk en Jonas kyk asb mooi na haar en die kinders.

LH ·

Wonderlik! Mag God saam met julle n pad van liefde en geluk loop!

Pierre Smith ·

Ag Mariandra ek is so bly vir jou en dit met ons geliefde Jonas! Wonderlik!!!!

Skaap ·

Jipee, dit is nou goeie nuus vir ‘n slag. Mariandra is baie braaf en strek om haar verhaal met die wereld te deel. Jonas doen meer vir die Afrikaaners as baie van ons eie mense. As jy hulle nie ken nie gaan subscribe na die youtube kanaal ‘Palaestra Media’ en like en share dit.

Koning Roos ·

Ek volg vir Jonas nou al n hele ruk op youtube ens, baie goeie ou, erg betrokken in SA en Afrikaner belange, baie bly vir hom en Mariandra, taai tannie daai. Baie geluk.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.