Verliefdes teen afgeleë plekke gewaarsku

Argieffoto

Argieffoto

Drie verdagtes is in hegtenis geneem wat glo persone in hul voertuie op die strandfronte in Strand, Gordonsbaai, Somerset-Wes en Macassar geteister het.

Kapt. FC van Wyk, woordvoerder van die polisie, het gesê twee verdagtes, onderskeidelik 20 en 24 jaar oud, is deur die Khayelitsha-polisie in hegtenis geneem. Die beamptes het beslag gelê op ʼn speelgoedpistool en ʼn voertuig wat na bewering tydens die misdade gebruik is. “Die misdade hou verband met motorkapings, diefstal en verkragting,” het hy gesê.

“Drie mans, tussen 20 en 30 jaar oud, het glo die slagoffers genader terwyl hulle in hul motors was op die strandfront by Strand, Gordonsbaai en Macassar. Die polisie ondersoek ses voorvalle van verkragting, kaping en poging tot moord,” het hy bygevoeg.

ʼn Derde verdagte is Sondagaand in hegtenis geneem.

Die drie persone verskyn na verwagting Dinsdag in die Strand-landdroshof.

“Die polisie waarsku paartjies om nie in die aand op afgeleë en afgesonderde plekke te parkeer nie. Ons doen ʼn beroep op slagoffers van soortgelyke misdade in hierdie gebiede om die voorvalle aan te meld,” het Van Wyk gesê.

Enigiemand met verdere inligting kan die ondersoekbeampte, lt.kol. Adrian Pretorius, kontak by 082 777 8499 of Crime Stop by 08600 10111.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

foxi ·

Ja nee……as mense wil vry……..gee hulle nie om waar hulle stop nie………

Entrepeneur ·

Net soos daar besigheid gedoen word met restaurante, nagklubs, ens. is dit tyd om ook nou met ‘n besigheid te begin om paartjies te beskerm by hulle vryplekke. Ek glo nie dit is onmoontlik?
Name soos “Kanniewagnie”, “Lekkervry”, “Soenendruk” ens. behoort byval te vind.
Ai, waar is my jong dae, selfs vóór die pangaman in Pretoria.

Alida ·

Ag as hulle nou nog so naief is om te glo daardie plekke is veilig moet hulle maar vir hulle kry. Mense luister net nie

Eva ·

Waar anders moet mens dan vry? Dis lekker om iewers anders te vry as by die boring ou huis.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.