Verlies aan bewerkbare landbougrond is ‘wesenlike bedreiging’

Argieffoto: Reint Dykema

Argieffoto: Reint Dykema

Na aanleiding van eergister se gesprekke rondom grondhervorming en die sterk gevoelens wat teenoor die minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming se jongste voorstelle ter tafel gelê is, is die kwessie van beskikbare landbougrond weer tydens gister se sessie van Nasie in Gesprek uitgelig.

Besprekings het veral betrekking gehad op die gebruik en volhoubaarheid van hulpbronne in die landboubedryf.

Die verlies aan bewerkbare landbougrond is uitgelig as ʼn wesenlike bedreiging vir volhoubare voedselproduksie en -veiligheid. Met die tendens van verstedeliking wat steeds voortduur (’n beraamde 70% van die bevolking sal teen 2030 verstedelik wees); en die voortgesette uitbreiding van myne, veral in Mpumalanga, is die risiko’s op hande ’n werklikheid.

“Suid-Afrika het 12,75 miljoen hektaar beskikbaar vir landbou, waarvan 70% beskou kan word as grond met ernstige beperkings in terme van die bruikbaarheid daarvan. ’n Skamele 3% van grond kan beskou word as bewerkbare grond met hoë potensiaal,” het Boeta du Toit, uitvoerende hoof van Agri Noordwes, gesê.

Van die beskikbare landbougrond is 4,5 miljoen hektaar in Mpumalanga. Altesaam 3,1 miljoen hektaar van dié grond word tans deur die mynboubedryf opgeneem.

Afgesien van die verlies van ’n gedeelte van die land se waardevolle bewerkbare grond vir landbouproduksie, het mynbou-aktiwiteite ook ’n invloed op waterhulpbronne. Onbeheerste mynbou lei tot die agteruitgang van grond- en watergehalte.

Die hoëveldstreek van Mpumalanga is ’n toonaangewende produsent van sojabone, mielies en droëbone. Altesaam 46% van Suid-Afrika se landbougrond met hoë potensiaal is in Mpumalanga.

“Ons moet voorsiening maak vir ’n steeds groeiende bevolking. Ons land kan nie die onoordeelkundige verlies van grond en die impak wat dit ongetwyfeld op voedselsekerheid sal hê, bekostig nie,” het prof. Johann Kirsten, hoof van die departement landbou-ekonomie en landelike ontwikkeling aan die Universiteit van Pretoria, gesê.

“Ons land het uitstekende wetgewing en beleidstellings wat die beskerming van ons natuurlike hulpbronne reguleer, maar die beleid tussen verskillende departemente word nie gekoördineer nie, wat dan hierdie skaars hulpbron (landbougrond) negatief beïnvloed. Die mynboubedryf neem baie van Suid-Afrika se produktiewe grond op,” het Kirsten bygevoeg.

Namate die energiekrisis in ons land groter word, word planne vir hidrobreking in die Karoo al meer ’n werklikheid en die desperate behoefte aan alternatiewe vir steenkool as bron van energie bly groei. Dit sal landbougrond in hierdie gebiede onder soortgelyke druk plaas as wat tans in Mpumalanga ondervind word.

“Ons aanvaar dat ’n mate van verlies aan grond onafwendbaar is. Mynbou is nét so ’n belangrike sektor in die ekonomie en lewer ’n belangrike bydrae tot werkskepping en die land se BBP. Ons doen egter ’n beroep op die regering om die gebruik van Suid-Afrika se grond as beperkte hulpbron beter te beplan, asook ander kritieke natuurlike hulpbronne soos water te beskerm,” het Kirsten afgesluit.

Die Nasie in Gesprek-debatte is daagliks aangebied van 12 tot 15 Mei by Graan SA se jaarlikse Nampo Oesdag by Nampo Park in Bothaville. Temas wat bespreek is, het ingesluit: arbeidsverhoudinge, grondhervorming (13/5/2015) en die beskikbaarheid en volhoubaarheid van natuurlike hulpbronne (14/5/2015). Die finale gespreksforum is Vrydag 15 Mei en fokus op tegnologiese integrasie in die landboubedryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Peet Schabort ·

Hierdie waarskuwings sal ook dieselfde pad loop as dié wat gedoen is aangaande Eskom se kragtekort al meer as 10jr gelede.

CHRISTA ·

Peet, ek stem 100% met jou saam. Hulle gaan net weer uit hulle parlimentêre slaap wakkerskrik as dit te laat is!!!

scalla ·

Steeds groeiende bevolking word gesubsideer deur die toelaes van die regering , het geen benul van die werklikheid nie.

david ras ·

Die groeiende bevolking is die grootste probleem.
In Mpumalanga is dit nou ‘n stryd tussen mynbou en landbou.
Mynbou is hoofsaaklik steenkool. Steenkool het net waarde as dit verbrand word, maak nie saak waarvoor nie. Dit is net ‘n bron van gerieflike energie, maar dit is nie noodsaaklik vir oorlewing nie.
Voedsel daarenteen is broodnodig vir oorlewing
Mens kan wel aan die groeiende bevolking vra:
Wat het julle die nodigste–kos of elektrisiteit ?
Wat kan julle eet, en wat kan julle nie eet nie ?
So eenvoudig soos dit.

Swanna ·

Dit is nie net mynbou wat die oorsaak is vir die verdwyning van landbougrond. Stedelike ontwikkeling is net so doring in die vlees. Goeie en vrugbare landbougrond word verswelg deur swak stedelike beplannig. Hier waar ek bly sien ons dit gebeur. Die gedeeltes waar lanbou nie op toegepas word nie soos bv ‘n klipperige stuk grond bly leeg maar waar daar landbou toegepas word , word huise op gerig soos padastoele. Dit is omdat weereens ongekwalifiseerde, ongeleterde, onopgeleide soustreinreisigers in die stoele sit.

Gielie - Namibië ·

As SA Landbou in verkeerde hande val, dan is dit “tickets” soos my oorle’ Pa altyd gesê het. Die Landbou leiers van die dag sal moet wakker wees vir die ANC se mooi gebakte broodjies. Vandag sus, more so….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.