Verligting ná 9-jarige anemielyer se oorplanting

Gidion du Toit in die hospitaal. (Foto: Verskaf)

Die negejarige anemielyer Gidion du Toit se beenmurgoorplanting kan as suksesvol beskou word.

’n Verligte Tuschka Reynders, Gidion se ma, het Vrydagoggend aan Maroela Media gesê dat klein Gidion se witbloedtelling baie hoog is en sy dokter gevolglik baie tevrede is. Dit is dus veilig om te sê dat sy liggaam nié die stamselle wat hy tydens die oorplanting ontvang het, verwerp het nie.

Sy rooibloedtelling en plaatjietelling behoort nou kort op die hakke te volg. “Die beenmurgoorplanting was suksesvol, nou hou ons dop vir komplikasies,” verduidelik Reynders.

Klein Gidion loop steeds die gevaar van komplikasies. Net vandeesweek het Gidion skielik gekla van ’n verskriklike maagpyn. Reynders vertel dat Gidion teen hierdie tyd ’n hoë pyndrempel opgebou het, maar Woensdagaand behoorlik van die pyn gekrul het. “Dit was verskriklik.”

Nadat hulle aanvanklik vermoed het dat dit sy blindederm is wat die verskriklike pyn veroorsaak, is talle toetse gedoen om bloot onsamehangend terug te kom. Gidion se dokter was dus genoodsaak om Donderdagaand onder narkose laparoskopies in te gaan waarna hy op vloeistof in Gidion se maag afgekom het.

Dié vloeistof is onttrek en weggestuur en sal oor twee dae hopelik antwoorde kan bied. Die enigste teken van Gidion se mees onlangse komplikasie is drie klein snytjies op sy lyf.

Dit is egter nog onduidelik waar presies dié vloeistof vandaankom en wat dit moontlik kan beteken. Reynders verduidelik dat die toetse hopelik sal kan vasstel of die vloeistof net inflammatories is of ’n werklike newe-effek van die beenmurgoorplanting is. “Miskien is dit van die chemoterapie vooraf aangesien hy geen immuniteit het nie. Ons weet nog nie.”

Vir nou is Reynders dankbaar dat Gidion nie nog ’n operasie moes ondergaan nie. “Gidi is nog in pyn en slaperig aangesien niks verwyder is nie maar daar was gelukkig geen perforasies nie. ’n Operasie was nie nodig nie.”

Sy vertel dat dit die blote verligting moes wees wat eindelik sy tol op haar geëis het toe Gidion Donderdagaand omstreeks 19:00 uit die teater gestoot is. Sy vertel dat sy ewe skielik naar geword het, ’n ondraaglike hoofpyn gekry het en geen pynpille kon inhou nie.

“Ek dink toe ek hoor hy is oraait, het my liggaam net ingegee van stres maar nou is mamma weer reg. Vandag is ’n nuwe dag met nuwe seëninge. Ek dink my kop is sterker as my liggaam,” verduidelik sy.

Gidion is sedert middel Oktober in ’n hospitaal in die Kaap vir sy lang verwagte beenmurgoorplanting asook die herstelpad wat daarop volg.

Gidion en sy ma, Tuschka. (Foto: NB Photography)

Reynders vertel van ’n lekker vooruitsig later in November wanneer Gidion moontlik ontslaan sal word. Dit beteken egter nie dat Gidion dadelik huis toe kan gaan nie. Reynders en Gidion sal sowat 100 dae in die Kaap moet aanbly. “Die eerste 100 dae is ’n kritieke periode. Daarna kan ons begin asemhaal,” verduidelik sy.

Dié reëling is bloot dat Gidion naby aan sy dokters is en sy weeklikse opvolgafsprake getrou kan nakom. Daarna sal hy huis toe kan gaan.

Reynders erken dat Gidion nog nie heeltemal homself is ná die beenmurgoorplanting nie. Dit is egter te verstane aangesien “sy hele liggaam gereboot is. Hy gaan daar kom. Hy is ’n vegter.”

Gidion is by geboorte met Fanconi-anemie gediagnoseer, ʼn genetiese siektetoestand wat die beenmurg aanval en uiteindelik daartoe lei dat die beenmurg onder meer nie funksies soos die produsering van witbloedselle, rooibloedselle en plaatjies kan voortsit nie.

Maroela Media het vroeër berig dat Reynders ʼn paar weke gelede voor ʼn kruispad te staan gekom het en moes besluit of Gidion wel ’n beenmurgoorplanting moes kry nadat Gidion hepatitis opgedoen het as gevolg van die medikasie wat hy voor die oorplanting moes inneem.

Indien hulle nié voortgegaan het met die oorplanting nie, was daar niks meer wat dokters vir Gidion kon doen nie. Om voort te gaan het egter die moontlikheid ingehou dat hy spontane breinbloeding kan opdoen en dit dalk nie oorleef nie. Hy kan ook infeksie kry of iewers seerkry en doodbloei. “Ek het op my gut feeling besluit. Ons het voortgegaan.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

ctd ·

Dit is baie goeie nuus . Ons God is groot prys die naam van Jesus

Elsabie ·

Baie sterkte vorentoe seuna!! Mamma, hou aan bid, ons dien ‘n wonderlike God!

Lollie ·

Pragtig! Hou aan glo want ons glo en vertrou die verhaal sal ń pragtige einde hê.
Almal wat van julle weet bid saam.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.