Verligting vir drankbedryf wyd verwelkom

Die verkoop van alkohol vir tuisgebruik word voortaan van Maandag tot Donderdag tussen 10:00 en 18:00 toegelaat. (Foto: pixabay)

Pres. Cyril Ramaphosa se aankondiging Sondagaand dat drankverkope ná ʼn vier week lange algehele verbod minstens weer gedeeltelik toegelaat word, is uit talle oorde verwelkom.

Ramaphosa het Sondagaand aangekondig dat Suid-Afrika na vlak 3 van die afsonderingsregulasies terugkeer. Verskeie verslappings is aangekondig, waaronder die toelaat van drankverkope onder sekere omstandighede.

Die aandklokreël geld steeds van 22:00 tot 04:00, maar interprovinsiale reise vir ontspanning word voortaan weer toegelaat.

Byeenkomste word toegelaat, maar met ʼn maksimum van 50 mense binnenshuis en 100 mense buite. Dié byeenkomste sluit kerkdienste, politieke saamtrekke en sosiale byeenkomste in. Bywoning van begrafnisse en verassings word steeds tot 50 mense beperk en nagwake en byeenkomste ná begrafnisse bly verbode.

Die verkoop van alkohol vir tuisgebruik word voortaan van Maandag tot Donderdag tussen 10:00 en 18:00 toegelaat. Drankverkope vir gebruik op die perseel word enige dag van die week tot 20:00 en ingevolge die spesifieke plek se lisensievoorwaardes toegelaat.

SAB, die Biervereniging van Suid-Afrika (Basa), die drankhandelsnaamvereniging (Salba) en die Restaurantvereniging van Suid-Afrika het almal reeds die verslappings verwelkom.

Zoleka Lisa, woordvoerder van SAB, sê die aankondiging is ʼn belangrike stap om die ekonomie weer aan die gang te kry.

“Die ophef van die verbod op drankverkope is ʼn welkome verligting vir ons bedryf en diegene wat daarvan afhanklik is om ʼn inkomste te verdien.

Lisa sê meer as 250 000 mense se inkomste hang van die bierwaardeketting af, terwyl meer as ʼn miljoen mense deur die drankbedryf in die geheel gesteun word.

“Ons wil hê elke ervaring met ons bier moet ʼn positiewe een wees, en dat dit met matigheid en verantwoordelik geniet moet word. Dus praat ons nie, en het ons nog nooit nie, enige roekelose gedrag goedgepraat nie, veral nie terwyl ons stry om die verspreiding van die virus te stuit.

Basa het ook die aankondiging verwelkom en die reddingsboei vir die duisende ondernemings en hul werkers dwarsoor die drankwaardeketting verwelkom. Dit sluit in 31 boetiekbrouerye wat op die rand van sluiting was nadat hulle 161 handelsdae sedert Maart verlede jaar verloor het.

Die vereniging sê egter gisteraand se aankondiging is skrale troos vir die talle ondernemings wat reeds moes sluit omdat hulle nie die verskeie verbodsbepalings oor die afgelope 16 maande kon oorleef nie.

“Basa gaan ook aan provinsiale regerings skryf en vra dat ondernemings wie se lisensies binnekort hernieu moet word, ʼn grasietydperk en betalingsvakansie gegun word om hulle te help om terug op hul voete te kom.”

Die bierbedryf het ook die belastingverligting wat Ramaphosa aangekondig het, verwelkom.

Die president het aangekondig dat die bedryf se betaling van aksynsbelasting met drie maande uitgestel word.

Salba het ook dié aankondiging verwelkom, maar sê die gevaar is nog lank nie verby nie.

“Die regering se gebruik van ʼn alkoholverbod in reaksie op die Covid-19-pandemie het verwoestende gevolge gehad,” sê Sibani Mngadi, voorsitter van Salba.

Die organisasie sê daar was geen regverdiging vir die verbod wat sonder waarskuwing of beraadslaging in werking gestel is nie en op swak empiriese regverdiging berus het. Die vereniging sê meer as ʼn miljoen mense, wat diegene in die landbou-, toerisme, gasvryheid- en vervaardigingsektor, insluit, kon nie hul brood verdien nie. Dit sluit derduisende klein- en mediumgrootte ondernemings in.

Salba sê wettige ondernemings moet toegelaat word om verder bedryf te word sonder die voortdurende gevaar van verdere verbodsbepalings. Die plundering en verwoesting van drankwinkels het talle klein handelaars en onafhanklike drankwinkels finansieel geruïneer.

Salba sê die bedryf het herhaaldelik gewaarsku dat die verbod op alkoholverkope onwettige praktyke aanvuur, veral onder misdaadsindikate wie se posisie weens die verbod beduidend versterk is. “Dit gaan ʼn moeilike situasie wees om in die toekoms om te keer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

jou gewete ·

Hoop die drank bedryf los nou hulle gekruip voor regering en maak soos die tabak bedryf gedoen het. stop die regering se gekheid met die howe vir eens en altyd. nie een van die twee bedrywe se produkte pla my maar wel die blywende skade aan hulle ekonomie en die feit dat die kriminele deur die verbod bevoordeel word

VaalDonkie ·

Ja ek self drink nie juis baie nie, maar net die feit dat ek nie mag nie, maak my lus om ‘n kas brannewyn te koop. Dit sal seker in die garage staan en verslaan, maar ek sal dit koop net omdat ek nie mag nie.

DIABLO ·

Ek hoop dit was die laaste van hierdie twak. Ek is behoorlik keelvol vir Covid en die impak wat dit op ons almal het.

jou gewete ·

en dit help alles niks. net die ekonomie word vernietig

SjN ·

Die regering het weereens gefaal met die sogenaamde inperkings verbod op drankwinkels en restaurante, jy kon drank kry wanneer jy wil, soort dranke en hoeveel jy wil he ens, net teen n baie hoer prys, wat verloor hul nie aan inkomste nie, As jy wil drink, sal jy drink, Gistermiddag het die bier lorries al gelaai, ek dink dit het tyd geword dat die bedryf vir die besluitnemers wys hul word nie voorgeskryf nie, kan hulle die hele land se wettige lisensies opskort, hul kan nie eers n paar looters in bedwang bring nie!!

Heinrich ·

Die hele ding is van die begin af verkeerd hanteer. Mens kan mos nie alle karre verban omdat motorongelukke hospitaalbeddens volk maak wat vir Covid pasiënte gebruik kon word nie. DIs mos nalatige en roekelose bestuurders wat ongelukke veroorsaak. Net so kan jy nie ‘n hele industrie verpletter omdat ‘n paar belhamels alkohol misbruik nie; straf die oortreders wat alkohol misbruik en so veroorsaak dat hospitaalbeddens opgeneem word.

Pieter ·

En so hou die ANC sirkus aan en ons neem nie standpunt in nie. Die ANC se ore gaan oop gaan as ons begin standpunt in neem. As ons dit nie gaan doen nie gaan die ANC kommuniste met ons mors.

Anoniem ·

Waarom kon dit nie in die eerste plek so ingestel gewees het gedurende die Lockdown van verlede jaar af nie. Hoeveel mense sit werkloos en besighede wat gesluit moes word as gevolg van die Regering se swak besluite. Wat verbasend is, is dat daar ewe skielik nie meer oor sigarette en tabak ‘n woord gerep word nie. Dubbele standaarde is aan die orde van die dag in hierdie landjie van ons.

Sakkie ·

Vat Hulle HOF toe en kry klaar. Dit sal net aangaan en aangaan.
Die hele tyd was drank nog vrylik beskikbaar gewees. So, dit het geen uitwerking gehad op die hospitale nie, net op die mense wat nie kon werk en geld verloor het.

andre ·

Nou wonder ek wie gaan die 20h00 reel van drankgebruik op die perseel toepas. Die regering is in n ander wereld

Ilze ·

Desember is dit weer dieselfde ou storie . Hopelik word ons darem hierdie jaar op die strand toegelaat

Baardman ·

Moenie hoop nie, hulle het reeds mos voorspel die 4e golf gaan plaasvind in Desember/ Januarie.

Arno ·

Mense, bou genoeg voorraad op vir die wat wel drink en rook, binne ‘n maand van nou af is dit dieselfde holrug geryde storie om weer alles toe te maak vir die 4de vlaag wat nou kastig weer die land gaan tref.
Ramaphosa, raak onstlae van jou onbekwame ministers wat op ons belasting betalers se rug ry onder andere Cele, Dlamini en jou sogenaamde “experts” wat elkeen ‘n knaende eier te lê het, julle is pleinweg pateties en onbevoeg om die land te regeer!

VaalDonkie ·

Gaan maar weer vir my ‘n stook-ketel maak. Jy het net ‘n drukkoker, koperpyp, en silwer solder nodig.

Piet ·

Maar jy drink dan nie juis nie. Nou vir wat wil jy dit dan doen?

Blomme ·

Nou gaan die ongevalle weer oorloop en die dronkies weer volop wees.

Johnny ·

Nou skielik is almal weer dankbaar teenoor st Cyril en die diktatuur . Nee! Die verbod moes nooit eers ingestel wees nie.
Ons moenie dankie sê dat die onsinnige regulasie opgehef is nie – ons moet kwaad wees dat dit in die eerste plek ingestel is.

Willem ·

Haai Johnny, hoe kan ons dan nou vir hom kwaad wees nadat by gisteraand geld uitdeel asof hy Vaderkrismis is

Jaco ·

Ons weet nou al dat die drankverbod kom en gaan. So daar gaan nóg wees. Kan almal wat so tydens elke verbou kla, ASSEBLIEF NOU koop en sommer genoeg koop.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.