Verligting vir vrou met seldsame siekte

Riaan Fourie, ‘n prostetikaspesialis wat Danelle se lyfpak aanbeveel het en Danelle (Foto: Verskaf)

Danksy ʼn spesiale lyfpak en die hulp van ʼn groep goedhartige vroue is Danelle le Roux se uitdagende lewe onlangs ʼn bietjie makliker gemaak.

Die liefdadigheidsorganisasie Caring Daisies het onlangs die Le Roux-gesin met R35 000 bygestaan om ʼn spesiale mediese lyfpak vir hul oudste dogter, Danelle, te koop. Danelle het ʼn seldsame siekte genaamd Richard Rurdle-sindroom onder lede.

Riaan Fourie van die Bradley Beckerleg-prostetikapraktyk in Centurion het gehelp om die lyfpak aan te koop.

Dié siekte is op die ouderdom van drie by dié 27-jarige Pretorianer gediagnoseer. Die siekte het haar groei en ontwikkeling erg belemmer.

Sy kon met ondersteuning eers op die ouderdom van een regop sit en op twee begin loop. Sy het later soos ʼn gewone peuter geloop en gehardloop, maar sedert die ouderdom van vier jaar het haar mobiliteit, sig, spraak en gehoor stelselmatig verswak.

Ondanks verskeie operasies is sy van ʼn bril en ʼn gehoorapparaat afhanklik en weens die feit dat haar spiere en bene nie gelykmatig groei nie kan sy nie meer loop nie.

Sy het gevolglik die voorkoms van ʼn tienermeisie en weeg slegs 25 kg, maar is volgens haar pa, Pieter, daarom juis ʼn “wonderwerkkind”. “Dokters het gesê dat Danelle weens haar siekte eintlik nie eens die ouderdom van ses maande moes gehaal het nie, maar met God se genade is sy 27 jaar later steeds hier.”

Le Roux vertel dat sy dogter ongeveer ʼn jaar gelede begin sukkel het om regop in haar rolstoel te sit, omdat haar ruggraatspiere ook begin verswak het. Spesialiste het gewaarsku dat dié verswakking later ander aspekte van haar gesondheid, soos haar asemhaling, kon bemoeilik.

Danelle le Roux (Foto: Verskaf)

Daar is toe vasgestel dat ʼn spesiaal ontwerpte lyfpak haar simptome aansienlik kan verlig, sonder dat sy haar mobiliteit prysgee deur ʼn meer gevorderde rolstoel te gebruik.

Só ʼn lyfpak moet natuurlik pasgemaak en ingevoer word en die Le Roux-gesin, wat reeds baie mediese uitgawes moet aangaan, is toe deur ʼn vriend na Caring Daisies verwys.

“Ons is so dankbaar vir die bydrae wat die vroue van Caring Daisies in ons lewe gemaak het. Danksy die lyfpak hoef Danelle nie ʼn meer ʼn beperkende rolstoel te kry nie en het sy saans baie minder pyn. Sy sit ook nou weer self in ʼn regop posisie en haar daaglikse beweeglikheid is vergemaklik. Ons weet dat die lyfpak nie haar toestand gaan genees nie, maar ons sien reeds hoe gelukkig dit haar maak,” sê Le Roux.

Marita Veater, die “Daisy” wat baie nou saam met die Le Roux-gesin gewerk het, sê dit is vir hulle organisasie verblydend om te sien watter positiewe verskil hul bydrae in die Le Roux-gesin se lewe gemaak het. “Winston Churchill het gesê ‘we make a living by what we get, but we make a life by what we give’ en dit is die perfekte beskrywing van die werk wat ons by Caring Daisies doen. Of dit nou iets eenvoudig soos ʼn kospakkie of iets groter soos ʼn mediese lyfpak is, ons lewe om te gee en om daar waar ons kan ʼn positiewe verskil in mense se lewens te maak.”

Vir meer inligting oor die werk wat Caring Daisies doen en om hulle te ondersteun besoek hul Facebook-blad of webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.