Verloofde praat ná kleinhoewe-aanval

Jonty Jacobs en sy verloofde, Doreen Lubbe. Foto: Verskaf

Die pa van Pretoria wat Woensdag in die vroeë oggendure op ʼn kleinhoewe in die Kameeldrift-omgewing geskiet is, is steeds verlam in sy onderlyf ná die aanval.

Jonty Jacobs (28) was saam met sy verloofde, Doreen Lubbe, en sy sesjarige dogtertjie in die huis toe die voorval gebeur het.

Lubbe het Vrydag aan Maroela Media gesê Jacobs word steeds in die waakeenheid van die Steve Biko- akademiese hospitaal behandel waar hy aan ʼn asemhalingsmasjien gekoppel is. Volgens Lubbe is daar aanvanklik vermoed dat Jacobs twee keer geskiet is, maar het hulle intussen vasgestel hy is net een keer in sy bors geskiet.

“Die koeël is reg deur sy long, het een van sy werwels getref en is by die anderkant van sy lyf uit. Ons vermoed dat die verlamming is as gevolg van die werwel wat verbrysel is, maar dokters fokus nou op sy longe en asemhaling. Hulle wil eers hom so stabiel as moontlik kry voordat hulle op die verlamming gaan konsentreer,” het Lubbe verduidelik.

Sy sê dit is nie tans duidelik of die verlamming tydelik of permanent is nie.

Volgens Lubbe het Jacobs baie bloed verloor weens die skietwond en een van sy longe het ook platgeval. “Hy is nog steeds op die asemhalingmasjien, maar hulle is besig om die suurstof stelselmatig minder te maak sodat hy kan begin om self asem te haal. Dit gaan al beter met hom, maar hy is nog nie buite gevaar nie.”

Sy sê daar is reeds berading vir Jacobs se dogtertjie gereël wat baie erg deur die voorval getraumatiseer is. Sy self het nog nie berading ontvang nie, omdat sy nou eers op Jacobs se herstel wil fokus.

“Ek moet nou sterk wees vir hom. As hy deur hierdie ding kan kom, kan ek ook. Ek weet hy is sterk, hy is ʼn fighter. En al is sy toestand nog ernstig, gaan dit beslis al beter en dit is klaar ʼn wonderwerk. Dít is die krag van gebed en God se wil. Ek weet Jonty sal baklei. Daaroor twyfel ek nie.”

Dean Pretorius, Lubbe se seun, het aan Maroela Media gesê die familie is reeds in die proses om te help om die paar te laat verhuis, omdat die familie weens veiligheidsredes nie wil hê dat hulle langer daar moet aanbly nie.

Maroela Media het vroeër berig Jacobs het Woensdag omstreeks 02:30 sy pa, Danie, gebel om te sê daar is onbekende mense op die kleinhoewe. “Hy het my gebel en gesê ek moet dringend kom, want daar is klaar mense in die huis óf hulle is besig om te probeer om in die huis in te kom,” het Danie vroeër aan Maroela Media gesê.

Danie het dadelik in sy voertuig gespring en na die kleinhoewe gejaag. In hierdie tyd het Jonty egter die aanvallers teëgekom en is hy geskiet. Volgens Danie het die aanvallers met onder meer selfone en ʼn televisie van die toneel gevlug.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

PIKKEWYN ·

Doreen, baie sterkte vir julle almal wat deur hierdie tragedie geraak word. Ons bid ‘n vinnige en algehele herstel vir Jonty toe. Die Here sal hom aanraak en genees, hou net aan glo!
Ek is baie jammer vir die seer, angs en gemors wat julle moes deurgaan.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.