Verloofdes se sprokiestroue dalk aan skerwe ná diagnose

Marlize Kriel. (Foto: Facebook)

Marlize Kriel. (Foto: Facebook)

ʼn Verloofde paartjie van Witbank in Mpumalanga sal moontlik genoop word om hul troue uit te stel nadat Marlize Kriel (23) met gewasse op die brein gediagnoseer is en nou sowat R500 000 vir ʼn breinoperasie moet opdok.

Adam Viljoen, Kriel se verloofde, het aan Maroela Media gesê Kriel is vroeër vanjaar met Von Hippel-Lindau se siekte, ʼn oorerflike siekte wat gekenmerk word deur die vorming van gewasse en vloeistofgevulde sakke (siste) in baie verskillende dele van die liggaam, gediagnoseer. Dié gewasse is nie altyd kwaadaardig nie, maar veroorsaak ongelooflike pyn en drukking op die brein.

Viljoen het vertel Kriel se pa, Johan, is in Januarie verlede jaar dood ná komplikasies van ʼn breinoperasie nadat hy ook gewasse in sy liggaam weens Von Hippel-Lindau se siekte opgedoen het. “Haar pa sʼn was so erg dat hy sy niere ook verloor het en moes dialise kry en ʼn gewas is van sy breinstam verwyder. Die operasies was wel ʼn sukses, maar hy het sepsis (bloedvergiftiging) in die hospitaal opgedoen en is daaraan oorlede.”

Juis daarom was die familie bekommerd toe Kriel vroeër vanjaar van erge hoofpyne begin kla. “Sy was twee keer by die huisdokter, wat vir haar gesê het dit is streshoofpyne en vir haar inspuitings gegee het vir die pyn. Ek het egter geweet iets is nie pluis nie en het besluit om by ʼn mediese fonds aan te sluit ingeval ons dit nodig kry,” het Viljoen gesê.

Marlize en Adam se verlowing. (Foto: Verskaf)

Marlize en Adam se verlowing. (Foto: Verskaf)

Volgens Viljoen het hy by ʼn makelaar op Middelburg aangeklop wat die mediesefondsaansluiting namens die paartjie behartig het. Die mediese fonds het hulle in kennis gestel dat ʼn wagtydperk van drie maande geld voordat hulle enige eise kan indien en drie paaiemente is ook deur ʼn debietorder uit Viljoen se bankrekening onttrek.

“Marlize het egter tydens die drie maande lange wagtydperk so siek geword dat sy ʼn neurochirurg, dr. Ernst van Graan, by die Kloof-hospitaal in Pretoria moes spreek. Hy spesialiseer in Marlize se siekte. Hy het toe ʼn skandering van haar brein gedoen en twee gewasse, een grote bo-op haar brein en een kleintjie nader aan die breinstam, is by Marlize gediagnoseer.”

Viljoen verduidelik dat Kriel “ongelooflike pyn ervaar het” omdat die vog op haar brein nie dreineer het nie. “Die dokter het in April vir haar ʼn shunt ingesit, wat baie eenvoudig verduidelik kan word as ʼn elektroniese toestel wat in die skedel geplaas word met ʼn pypie wat na die blaas lei, om sodoende te help met die dreinering van die vog.”

Marlize na die eerste operasie waartydens die "shunt" in haar skedel geplaas is. (Foto: Verskaf)

Marlize na die eerste operasie waartydens die “shunt” in haar skedel geplaas is. (Foto: Verskaf)

Volgens Viljoen was Kriel se hoofpyn so erg dat die linkerkant van haar lyf tydelik lam geraak en haar linkeroog skeefgetrek het. “Ons kon toe nou uiteraard ook nog nie by die mediese fonds eis vir die operasie nie en die familie het gesamentlik R150 000 ingesamel om vir die prosedure te betaal.”

Viljoen het gesê dr. Van Graan het vir hulle gesê dat hy die operasie om die boonste gewas te verwyder so gou as wat die drie maande wagtydperk by die mediese fonds verby is, wil uitvoer. “Hy het ook briewe aan die mediese fonds gerig waarin hy die erns van Marlize se toestand benadruk het.”

Dit was egter vir die paartjie ʼn groot slag toe die mediese fonds laat weet het hulle gaan nie die operasie dek nie. “Die fonds meen dat ons sekere inligting van hulle weerhou het toe ons aanvanklik aansoek gedoen het. Marlize het byvoorbeeld in 2013 saam met haar broer vir ʼn roetinebreinskandering gegaan omdat hul pa met dieselfde siekte gediagnoseer was. Ons moes glo dié skandering aangemeld het, maar ons het nie geweet ons moet nie en ek het destyds nog nie vir Marlize geken nie.”

Die paartjie is al twee jaar lank in ʼn verhouding en reeds ʼn jaar daarvan verloof. “Ons moes glo ook Marlize se aanvanklike besoeke aan die huisdokter, wat vir haar die inspuitings vir die hoofpyne gegee het, aangemeld het. Tog het ons makelaar niks vir ons gesê nie, en hoe sal ʼn mens dit nou vanself weet?”

Die derde paaiement wat deur die mediese fonds afgetrek is, is weer aan hom terugbetaal, maar dié fonds is nog R10 000 aan hom verskuldig. “Mense sê vir my ek gaan dit nie terugkry nie. Die fonds het intussen laat weet hulle kanselleer ons dekking en ek het nou eers my kaart in die pos gekry.”

Marlize en Adam. (Foto: Facebook)

Marlize en Adam. (Foto: Facebook)

Viljoen het vertel Kriel se pa is dood in die privaat hospitaal waar hy behandel is. Dit laat hom so skrikkerig voel dat hy nog banger is om haar na ʼn staatshospitaal te laat oorplaas. “Ons het op dr. Van Graan se aanbeveling en verwysing ʼn dokter by ʼn staatshospitaal in Pretoria gaan spreek en solank vir Marlize op die waglys geplaas. Dié dokter is self deur dr. Van Graan opgelei en ook baie kundig oor haar siekte.”

Hoewel Viljoen weet dat sy verloofde in goeie hande sal wees in die staatshospitaal tydens die operasie, is dit die nasorg wat hom pla, juis omdat Kriel se pa nie weens sy operasie dood is nie, maar weens infeksie wat hy agterna opgedoen het. “Ek wil glad nie die hospitale slegpraat nie, want die mense was almal nog net goed vir ons, maar ons almal weet ook wat die situasie is by staatshospitale en ek is regtig bekommerd oor die higiëne. Ek wil haar nie graag daar sien lê nie.”

Die paartjie sal egter R500 000 moet opdok indien hulle wil voortgaan met die operasie by die privaat hospitaal deur dr. Van Graan. “Dit sluit nie net die operasie in nie, maar dek ook sekere koste wat moontlik agterna kan opduik, want ons weet nie of sy ná die operasie weer gaan moet leer praat of loop nie.”

Marlize se verloofring. (Foto: Verskaf)

Marlize se verloofring. (Foto: Verskaf)

Volgens Viljoen is hul troudatum reeds vasgestel en die onthaalplek se deposito betaal, maar hulle gaan moontlik die troue moet uitstel. “Marlize sê sy wil nie graag nie, want dit is die enigste ding wat haar in dié stadium moed en hoop gee om aan vas te hou. Ons het die geld wat ek en haar ma vir die troue gespaar het op die vorige operasie gebruik.”

Kriel is ook tans op ʼn waglys by die staatshospitaal om op die dokter daar se aanbeveling ʼn spinale MRI-skandering te laat doen. “Dit gebeur eers in Augustus, maar die operasie moet eintlik dringend gebeur. Ons speel vir tyd,” het Viljoen gesê.

Lede van die publiek wat die paartjie finansieel wil bystaan, kan met Viljoen kontak maak by [email protected]. Sy WhatsApp-kontaknommer is 072 340 2932 en mense kan hom ook bel by 064 683 6925.

“Dit gaan nie vir ons net oor die geld nie. Ons het mense se gebede broodnodig. Ons vra vir mense om vir Marlize te bid sodat sy genesing van die Here af kan kry.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

46 Kommentare

SIEKFONDS ·

Besliste goeie hulp sal jy eerder by die REGTE hospitaal kry as by plekke met regte titels. Dit is moielik maar sterkte.

HPV ·

Wat regverdig hierdie astromomiese mediese koste? Soms voel mens jy word soort van afgepers omdat medies in staatshospitale verval het tot asolute geen diens of diens wat grens aan selfmoord. Mens het geen keuse meer nie, of betaal of sterf. Tragies om die minste te sê. Dieselfde kan van regskoste gesê word, of betaal of gaan tronk toe. Soms betaal mens en gaan in elk geval tronk toe. Koste aangegaan sonder ‘n waarborg!

Spikkels ·

Nou praat jy, ek weet dokters is slim en het jare studeer en baie betaal daarvoor ens ens maar om R400 – R500 te vra net om binne 5min jou te diagnoseer en n voorskriffie te skryf is skrikwekend, en hulle sien 7-8 pasiente in n uur.. alhoewel chirugie n ander ding is, en die hospitaal ook n sny van die koek wil he, maar nogtans duur..

Nix ·

HPV spesialiste betaal ongelooflike heffings vir ‘medical insurance’ elke maand. Sommige dokters moet meer as ‘n miljoen ‘n jaar opdok, so dit behoort vir jou aanduiding te gee hoekom kostes so hoog is! Hulle het ook ander koste wat gedek moet word soos enige ander besigheid!

Spikkels, as jy ‘n dokter sien wat 7 – 8 pasiente in ‘n uur sien, sal ek kommer. Dit beteken jou konsultasie is minder as 10 minute – I doubt that strongly, want geen mens kan ‘n ordentlike diagnose in so ‘n kort tydjie maak nie!

Nog 'n leser ·

Moet asb nie die dokter roskam oor die hoë koste nie. Omdat hy weet dat sy nie ‘n fonds het nie gaan hy tien teen een teen ‘n verlaagde tarief opereer of dalk verniet. Ons het al met hom te doen gehad. Hy het ‘n hart van goud en help graag. Die teaterkostes van die hospitaal is baie hoog en ‘n pasiënt moet na ‘n breinoperasie in intensiewe sorg opgeneem word. Dit kos duisende rande per dag. Die rehabilitasie na ‘n breinoperasie is ook lank. Fisioterapie en arbeidsterapie dra by tot die hoë kostes.

Nix ·

Hoor hoor NOG ‘N LESER! Dr van Graan is voorwaar ‘n man met ‘n hart van goud en een van die beste dokters in ons land. Hy is nie daar om net geld te maak uit weerlose mense nie! As iemand nie al met hom te doen gehad nie, moenie dink hy is ‘the bad guy’ in die verhaal nie! Soos jy sê, die ander koste is hoog en niemand neem dit in ag nie!

Sterkte en ek bid dat die Here Sy hand van beskerming oor julle sal hou en vir volkome genesing!

Ben ·

Almal weet mediese koste is baie hoog. Dit is daarom onverantwoord om sonder mediese versekering te wees.

leser ·

marlize en adam,
sterkte vir julle, ek dra julle ook aan Die here op in my gebede
glo en vertrou dat Die Here sy Hand van beskerming en genesing oor marlize sal hou

Gesiggie ·

Marlize en Adam.. jul is n prag van n paartjie.. en ek is so jammer dat jul deur al die pyn en hartseer moet gaan veral jy Marlize.. en dit nou dat jul al klaar die troue beplan het.. moet nie moed verloor daar is Angels daar buite wat weet dat jul n lewe saam wil bou en dat jul Lief is vir mekaar en vir altyd wil saam wees…Ek Glo en vertrou als gaan goed gaan en dat Marlize genees sal word… Hou vas aan jul Geloof en hou aan Glo… God sal voorsien

Michelle ·

Klop aan by die mediese fonds ombudsman, hy sal uitsluitsel gee of die fonds se optrede korrek was.

Lana ·

Gaan asb. na die ombudsman. Dit klink nie reg.
Fonds het julle reeds laat weet van wagtydperk en paaiement laat betaal.
Sy het gedurende wagtydperk baie siek geword en dokter gaan sien.
Op die meeste kon fonds weier om operasie te betaal wat voor intree datum gedoen is, maar nie lidmaatskap daarna weier??
Ek het ook nie geweet ‘n mens moet alle toetse, ens. waarvoor jy tot 5 jaar gelede voor gegaan het in aansoek noem nie.

Marlie ·

Die mediese fonds in ongelukkig heeltemal korrek in hulle optrede. Lees die berig weer en sien dat hy na intense hoofpyne “geweet het iets is fout” (en in die lig van haar pa se siekte – lees ook op oor Von Hippel en die genetiese oordraagbaarheid) en toé besluit het om by ‘n mediese fonds aan te sluit. Dit is dus duidelik dat hulle by die mediese fonds aangesluit het met die verwagting dat hulle “groter as normale” onkostes gaan hê om agter die kap van die byl oor haar hoofpyne te kom. Die onus rus ook op die applikant om absoluut volledige mediese geskiedenis te voorsien; familie en persoonlik (en in ‘n geval van Von Hippel is dit krities – en die feit dat broer en suster in 2013 alreeds skanderings ondergaan het juis agv hulle pa se siekte toon dat die familie bewus was al so vroeg soos 5 jaar terug van die risiko, dit moés genoem gewees het – al vra die makelaar daarvoor of nie).

Lana ·

Is die antwoord dan dat mediese fondse hoogs waarskynlik mense met groot probleme van die staanspoor sal wegwys?

SNEL ·

As jy nog nooit by n medies was nie, sal hulle uitsluitsels hê as jy vir die eerste keer aansluit. Hul sal byvoorbeeld nie reeds bestaande kroniese toestande dek nie en ja, hulle het n wag tydperke ook. As jy enige siekte wegsteek is dit nie reg nie. Jy moet met jou gesondheidtoestand oopkaarte speel. Watter medies gaan as hulle weet jy het n siekte wat duisende rande gaan kos jou laat aansluit om daai operasie en opvolge soos chemo en goed uit hulle sakke na n wagtydperk te doen. Dis belaglik om dit van n medies te verwag. Hierdie medies het nie verkeerd opgetree nie. Dis net jammer dat hulle nie van die staanspoor gehoor het wat die uitsluitsels is en wagtydperk (of haar siekte so lank kan wag of aggresief is). As hulle met haar pa se afsterwe verlede jaar, voordat sy enige tekens getoon het, juis vir ingeval so iets met haar sou gebeur aangesluit het by n medies, dan sou hulle nou gedek gewees het. Dis vreeslik, hulle kort finansiële hulp, maar die medies tree nie buite hul reëls en regulasies op nie.

Cherokee ·

Mens koop nie versekering nadat ‘n voertuig gestamp is nie. Jy koop versekering vroegtydig vir ingeval ‘n voertuig gestamp kan word. Mediese fondse se ledegeld is skrikwekkend. Ons hernuwing vir die komende jaar is so pas gedoen en my vrou en ek betaal R4739 per maand vir slegs ons twee. Vergeleke met die alternatief wetende hoe staatshospitale lyk, is daar nie ‘n keuse nie. Ry ‘n goedkoper kar en woon in ‘n goedkoper woonplek maar tref voorsorg. En ek verwys nie spesifiek na die betrokke mense in die berig nie want ek ken nie hul omstandighede nie, maar adviseer bloot algemeen.

YVONNE ·

Ek dra jul op aan die Almagtige 3 enige God. Mag Sy wil geskied en mag jul albei vashou aan Hom in hierdie moeilike tyd. Daar is baie vrae, baie stemme..maar op die einde van die dag behoort alles en almal aan Hom. Seen en Vrede vir julle. shalom

linda ·

Sterkte! en Sterkte,…….5c = ….ongelukkig is daar baie “special” mense op die aarde met “special” needs almal kan nie medies bekostig
vir die res van ons is daar die Steve Biko’s, kalafongs, en Tshwane hospitale omdat ons skaars geld het vir ordentlike kos
Steve Biko het my lewe meer as eenkeer gered, en ek’t meer as een geliefde in ‘n “nice Netcare” hospitaal totsiens gesê
Mag die Here die vrou aanraak en die dokters se hande seën om haar gesond te maak

Johan ·

Sterkte aan die paartjie gegewe veral die omstandighede rondom medies en hospitale.

Hospitale kan maar “sharks” wees. Ek is tans in ‘n geveg met ‘n private hospitaal. Was halwe dag in gewees vir klein prosedure, maar nou vra die hospitaal ‘n volle dag se saaltarief. My medies het natuurlik voor die tyd net magtiging gegee vir halwe dag, want hulle ken die prosedure. Nou moet ek as privaat individu met hospitaal baklei want ek is nie bereid om daardie ekstra geld in te betaal nie. Was dan net 4 ure in die saal, maar hulle wil volle dag se geld by my kry.

Hospitale en mediese fondse beding (en bekonkel) tariewe. Waarskynlik die grootste uitgawe en nie altyd die dokter self nie.

Zane ·

As jy na 12:00 die middag eers uit geteken het is dif volle dag ongeag.

Voor 12:00 is halfdag. Maak nie saak of daar net magtiging gegee is vir halfdag nie.
Medies slegs verandwoordelik vir die tye wat magtiging gekry is. En ongelukkig jy vir die res.
As dit dalk help. Dien ‘n eis by jou medies in meg supporting document’s, vanaf Dr. Hospitaal, Prosedures ens. Daar is wel ‘n moontelikheid dat jou medies die eis sal , hersien en die uitstaande bedrae aan jou direk kan uitbetaal,en dan is jy verandwoordelik om dit aan die Hospitaal te betaal

Slim vang sy baas ·

Ja,wat my die dinges in maak,is dat huisdoktors altyd wil slim wees en DINK dis dit of dat. Hulle raai ook maar. Soos n bekende wat gese het dis maar net n deurmekaar maag,toe was dit n blinde derm wat gebars was,en die persoon was amper dood weens “dr” se verkeerde diagnose. Baie sterkte

MT ·

Die mediese fonds het reg opgetree. Die vraag lê by die makelaar? Het die makelaar die regte vrae gevra tydnes die aansoek. Dis maklik om ‘n mediesefonds aan iemand te verkoop en die aansoek vra ook die vrae van enige vorige kondisies ens. Dis belangrik dat jy jou hele geskiedenis uiteensit om so te voorkom dat jy wel eendag die dekking sal geniet waarvoor jy betaal.

SjN ·

MT, die vrae word aan die versekerdes gevra waarop hul antwoorde skriftelik moet verskaf, volgens my is al die inligting nie geopenbaar nie, indien dit wel by aansoek genoem was dat daar voorheen mediese advies en inligting verkry is vir genoemde geval sou daar bo en behalwe die algehele wagperiode van 3 maande ook nog n langer uitsluitingsperiode op sekere prosedures van toepassing gewees het, die reels en regulasies word deur die registrateur van mediese skemas bepaal. Die versekerdes het die aansoek onderteken. Hul kan probeer maar die ombudsman gaan in die guns van die fonds beslis. Sal graag opvolg berig wil sien.

Maak Seker ·

Dis jammer dat hulle so laat gewag het om aansoek te doen vir medies. Alle mediese fondse se aansoekvorms het deeglike vrae rondom jou mediese geskiedenis en dis jou verantwoordelikheid as aansoeker om alles te openbaar maak nie saak hoe gering nie. Jy word spesifiek gevra na jou familie geskiedenis, enige skanderings of toestande. Mense maak misbruik van mediese fondse wat dan weer tot gevolg het dat ander meer moet betaal en die maatreëls nog stenger raak.

Blommie ·

Ombudsman!!!! LMGA…….. Teen die tyd wat alllle bewyse gekry is en al die apier werk ingevul is, is die tyd al weg. mens dink dis so maklik, toe nou nie. Net soveel reg as wat jy het om dit te doen, het die ander party n kans. want waar gaan die bewys nou weer wees dat hulle dit nie gese het nie. wat van al daai fyn skrif en en en! Ag nee wat, daai pad loop ek nie weer nie. Jy se ek se on se daai een beweer, ag nee wat. Help eerder waar mens kan, want iemand se lewe hang hiervan af en 10 teen 1 gaan daai Medies nie eers die res van die geld terug betaal en iemand kan niks doen nie. Hulle put jou prokureur gouer uit as wat jy daai 10 000 op die tafel kon sit. Ons land se wettte, dink twee keer.

**anoniem** ·

Sjoe, hierdie is geweldig hartseer! Sterkte Adam en Marlize, ons Geneesheer sal jou gesond maak Marlize, ek spreek lewe oor jou uit en volle genesing!! AMEN

thinus ·

Ek wil graag net onder baie lesers se aandag bring wat dit dalk nie weet/besef nie: Baie van ons werkende belastingbetalers (wat voorheen nog middelklas was) kan nie meer ‘n mediese fonds bekostig nie!
Ons moet huisvesting betaal, plus krag en water
Ons moet skoolgeld betaal
En wat oor is MOET ons mee kos koop.
Nee ek het DSTV om te kanselleer nie, nee ek het nie klere, meubel of self motor finansiering om te stop nie, nee ek het nie eers meer omvattende versekering nie. Ja ek en my vrou werk ook flippin hard om alles wat ek nog kan bekostig betaal te kry.
Mediese koste het egter ‘n luukse geword, so jammer as ons ook eendag op ander se groothartigheid moet staat maak om dringende mediese prosedure te befonds.
in elk geval het mediese fondse het 101 redes om nie eise te betaal nie, maar hulle sal nie Een uitsondering maak nie! En selfs in die beste privaathospitaal kan jy ‘n dodelike kiem optel en sterf! En raai wat, hul sal nie eers ‘n gedeelte van die koste terug skryf nie.
Mediese bedryf – ABSOLUTE GELDWOLWE!

Karen ·

Ek is jammer om te lees van julle groot hartseer, bekommernis en probleme. Julle is pragtig. Ek glo en bid dat deure vir julle sal oopgaan.

marcia ·

Sien dit keer op keer op keer. Geen medies (of doen aansoek na daar reeds probleme bespeur is) en dan moet almal wat wel medies het en ten duurste maandeliks betaal, help.
Voel baie jammer vir paartjie, maar medies is nie ‘n luukse nie. Ons doen onsself te kort, maar betaal ons medies elke maand.

zeno ·

Almal kan nie mediese fondse bekostig nie. Moet mens medies betaal en nie geld hê vir kos nie. Dink bietjie daaraan. Wat van persone wat slegs `n pensieon ontvang. Bid eerder vir die paartjie.

Magsie ·

Diegene wat dokters, staathospitale en mediese fondse sleg sê, is kortsigtig. Daar is 2 kante van elke saak. Dis duidelik al die feite is nie op die tafel gesit nie. Die spesialiste wat by privaat hospitale werksaam is, is deur professore by die Steve Biko’s, Kalafongs e.a. opleidings-/staathospitale opgelei. Die onlangse beriggewing deur Carte Blanche is werklik insiggewend, goeie dienslewering geskied onder moeilike omstandighede. Die paartjie se situasie lyk benard, maar goeie behandeling is nie noodwendig beter in n privaathospitaal nie. Sterkte vir hulle.

Susan ·

My dogter is by ‘n vooraanstaande private hospitaal in Pretoria geopereer vir skoliose en het daar ook sepsis opgedoen en is oorlede daarvan. My suster se skoonpa is in ‘n private hospitaal oorlede na ‘n breinoperasie – ook sepsis. My oupa is in ‘n privaat hospitaal oorlede na ‘n breuk operasie – ook sepsis. Private hospitale is ook maar vieslik vuil!!! Ek twyfel of hulle regtig soveel skoner is as staatshospitale, dalk net beter diens.

Flintstone ·

Maroela media het 1,2 milj. lesers. As net die helfte van ons elkeen net ‘n R100 gee kan ons hierdie mensie help.Ek stuur nou my bydrae namens my en my vrou(2lesers)Komaan laat ons saamstaan en help!Kan iemand good morning angels ook inlig?Verder bid ons vir hierdie 2 jongmense wat op die punt van troue staan.

Johanné Steyn ·

Hi Flintstone, dankie vir jou uitdaging! Rk betaal ook graag R100 in. Ek daag die ander R1 999 998 lesers uit om dieselfde te doen

Johann ·

Mense sterf nie net in staatshospitale van sepsis nie. Daar is ook heelwat sterftes as gevolg daarvan in privaat hospitale. Doen maar navorsing daaroor.

Theresa B ·

Hoekom gaan die meeste mense dood agv infeksie wat hulle in die hosp kry NA ‘n suksesvolle operasie. Wat gaan binne in die hospitale aan? Dit is regtig kommerwekkend!!!

Generaal ·

Hkm vertel julle nie die storie aan good morning angels nie ek weeti of hulle nog bestaan nie meskien kan hulle julle help om die geld bymekaar te maak.. Sterkte en hooo julle kom reg

tamboti ·

En die mediese fondse is so duur omdat die privaat hospitale so belaglik duur is.

Jan ·

Publiseer die bank besonderhede waar inbetalings gedoen kan word.

Meraai ·

Hoop die storie is op FB ook,so sal daar gehelp word en fondse ingesamel word,Selfs ek glo Jacaranda sal hul help…..My hart baie seer vir hulle

Annatjie ·

Maroela stuur asseblief vir my Banl Besonderhede na my email adres. Dankie
Annatjie Z.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.