Vermaak-uitgawes van OVK-adjunkvoorsitter ʼn “smeerveldtog”

Die OVK se kantoorgebou by Riverside-kantoorpark in Centurion Foto: Oupa Mokoena, Pretoria News

Die OVK se kantoorgebou by Riverside-kantoorpark in Centurion Foto: Oupa Mokoena, Pretoria News

Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) het Saterdag gesê medianavrae wat daartoe gelei het dat sy adjunkvoorsitter R6 000 moes terugbetaal ná ʼn eis vir vermaak-uitgawes, is deel van ʼn smeerveldtog.

“ʼn Koerant het onlangs die OVK genader met navrae wat verband hou met vermaaklikheidsuitgawes wat lede van die kommissie ingedien het,” het Marco Granelli, woordvoerder van die OVK, gesê. “Dit is duidelik deel van ʼn smeerveldtog om lede van die kommissie te diskrediteer wat gekoppel word aan die proses om ʼn nuwe kommissaris en voorsitter aan te stel.”

Beeld het Saterdag berig dat Terry Tselane die OVK terugbetaal het om die skade aan sy naam en reputasie te herstel. Daar was gerugte dat Tselane en twee ander OVK-kommissarisse, Bongani Finca en Raenette Taljaard, die OVK se geld tydens die proses om ʼn nuwe voorsitter aan te stel, wanbestuur het.

Tselane het glo ʼn duur ete en drankiesrekening by ʼn luukse restaurant in Sandton met die OVK se geld betaal, selfs al was dit nie werksverwant nie, het die koerant gesê. Hy het glo ook die OVK se toerusting, skryfbehoeftes en personeel gebruik vir sy onlangse troue, aldus die koerant.

Granelli het egter gesê al Tselane se uitgawes was “regmatige sake-uitgawes en is goedgekeur kragtens die beleid van die OVK. Hy het bygevoeg Tselane se vermaaklikheidsuitgawes is gemiddeld minder as R500 per jaar vir die afgelope 13 jaar wat hy al in diens is van die OVK. “Kommissaris Tselane het besluit om persoonlik die uitgawes te dek in die lig van die persoonlike aanvalle op sy reputasie.”

Tselane het aan Beeld gesê sy kollegas het hom gehelp om sy troue te beplan, maar hulle het dit vrywillig gedoen. Hy het ook gesê bewerings van wanbesteding is deel van ʼn smeerveldtog.

Die Openbare Beskermer is besig met ʼn voorlopige ondersoek oor bewerings teen die drie kommissarisse, het die koerant berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.