Vermaakkunstenaar Saranti Reeders sterf

Die vermaaklikheidster Saranti Reeders is Saterdagoggend dood. (Foto: Facebook / Die Suid-Afrikaanse Legendes Museum)

Die vermaakkunstenaar Saranti Reeders, ’n bekende persoonlikheid en kranige musikant op die destydse musiekspeletjieprogram Liriekeraai, is Saterdagoggend oorlede.

Hoewel die oorsaak van haar dood nie in dié stadium bekend is nie, blyk dit uit plasings op sosiale media dat haar afsterwe moontlik met Covid-19 verband hou.

Huldeblyke vir Reeders, wat ook in die kykNET-sepie Getroud met rugby te sien was, stroom sedertdien op sosiale media in.

Die sangeres Amanda Strydom het op Facebook geskryf dat Reeders se afsterwe ’n “skok” is.

“Sy was vol lig, grappies, superslim en talentvol. My hart gaan uit na haar seun, Cole, en haar geliefdes. Ons stam het ’n groot gees verloor. Rus in vrede, my liefste Saranti.”

Die akteur Anton Dekker het ook ’n huldeblyk aan Reeders op sy Facebook-blad gebring.

Saranti Reeders. (Foto: Facebook / Willie Strauss)

“Jou ongelooflike talent het ons betower, en jou wonderlike avant-garde-humorsin het ons vermaak. Jy het bepaald volgens jou eie unieke melodie gedans, en die hoofstroom het jou verveel.

“Jy het kleur aan ons lewe gegee, en nou is daardie kleur weg en net ’n groot leë, baie seer, plek in my borskas bly oor. My trane loop skaamteloos oor my wange. Ek huil saam met jou seun, Cole, jou familie en naby vriende. Mag julle vrede vind.”

Die aktrise Mandi du Plooy-Baard het ’n foto op haar Instagram-profiel gedeel en gesê dat die Getroud met rugby-familie Reeders oneindig baie gaan mis.

Willie Strauss, ’n vriend van Reeders, sê sy was enig in haar soort.

“Vlieg hoog, suster. Jy gaan gemis word.”

Reeders se afsterwe kom net meer as ’n dag ná die dood van Yoti Loizos, alombekend as die Griekse Boertjie. Loizos is Donderdagaand aan Covid-19 dood.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Samuel

Mag jy in vrede rus, Seranti. Het haar baie geniet op Lirieke Raai. Sterkte aan haar seun.

Chris dupreez

Dis n groot skok. En dan is daar nog hansworse wat sê covid bestaan nie

Barend

Rus in vrede

Diline

My innige simpatie aan haar familie, vriende en kollegas. Dis kommerwekkend hoe baie mense nou dood gaan van Covid.