Vermeende aanlyn swendelaar by kerk vasgetrek

Omotese Ebor (Foto: Verskaf)

ʼn Vrou wat na bewering ʼn slagoffer uit R1,9 miljoen bedrieg het in ʼn aanlyn romanse-bedrogspul, is Sondag in Sandton in Johannesburg tydens ʼn kerkdiens in hegtenis geneem.

Volgens kapt. Ndivhuwo Mulamu, woordvoerder van die Valke, het die slagoffer ʼn moontlike romantiese maat, ene Allen Grey, aanlyn ontmoet en het hulle van Desember 2016 tot Januarie 2018 op dié manier ʼn verhouding gehad.

Grey, ʼn vrou wie se regte naam Omotese Ebor is, het haar as ʼn kwansuise vooraanstaande Wes-Kaapse sakeman voorgedoen.

Die 40-jarige Ebor, ook bekend as Tessy, het kort nadat die twee aanlyn ontmoet het, by die slagoffer begin geld leen.

Die vrou het uiteindelik sowat R1,9 miljoen vir Ebor – as Grey – geleen nadat dié aangevoer het dat sy eie bankrekeninge in ʼn kuberaanval geteiken is, sê Mulamu.

“Die geld is na bewering na verskeie bankrekeninge oorbetaal, waaronder R857 000 in Ebor se sakebankrekening.”

Fortune Nomfusi (Foto: Verskaf)

Die vrou het snuf in die neus begin kry en ʼn klag by die Valke aanhangig gemaak, waarna die eenheid vir ernstige handelsmisdaad die saak ondersoek het.

Die owerhede het lasbriewe vir die verskillende betrokkenes bekom en ʼn multidissiplinêre operasie van stapel gestuur om hulle aan te keer.

Ebor is tydens ʼn kerkdiens wat sy bygewoon het, in hegtenis geneem. Sy word van bedrog en geldwassery aangekla en het Woensdag in die Palm Ridge-handelsmisdaadhof verskyn.

Nog ʼn vermeende betrokkene by die bedrogspul, Fortune Nomfusi (31), is vroeër vanjaar in Khayelitsha in die Wes-Kaap op soortgelyke aanklagte in hegtenis geneem. Sy is sedertdien op borgtog van R3 000 vrygelaat.

Genl.maj. Ebrahim Kadwa, provinsiale hoof van die Valke in Gauteng, het die ondersoekspan geloof vir hul toewyding om die vermeende swendelaars vas te trek.

Nomfusi en Ebor sal na verwagting Vrydag weer saam in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

14 Kommentare

jongste oudste gewildste
Genis

LOL borgtog van R3000, sy is weg soos laas maand se salris…. Hoe dom om soveel geld te leen vir iemand wat jy nie eers ken nie???

Diline

Ja nee mens moet regtig niks tussen die ore he om soveel geld vir iemand te “leen” wat jy nie eers ken nie! Daai gesig spreek boekdele “SKELM”

Lollapop

Ek kan nie glo mense word nog so gevang nie, is ons mensdom so eensaam

JohanR

Was sy besig om te bely?

Sheree

Hoe simpel is iemand om so baie geld aan iemand te leen wat hulle skaars ken. Ek kan net lag.