Vermeende beddegoed-bedrieër aangekeer

Grant Nelson (in die pienk broek) kort nadat hy in hegtenis geneem is. (Foto: Royal Investigations)

ʼn Vermeende bedrieër wat aanlyn beddegoed aan mense verkoop en dan glo met hulle geld verdwyn, is agter tralies.

Grant Nelson het items soos eet-, slaapkamer- en badkamerstelle asook komberse en matte op sosialemedianetwerke geadverteer, maar glo soos ʼn speld verdwyn sodra hy daarvoor betaal is.

Daar was later soveel klagtes dat van sy vermeende slagoffers selfs ʼn groep op Facebook begin het waar hulle ander verbruikers gewaarsku het.

John Alexander, ʼn private ondersoeker van Kaapstad wat die polisie met die ondersoek help, sê meer as ʼn 100 mense is vermoedelik reeds op hierdie manier ingeloop.

Nelson moes op 11 September op ʼn afsonderlike aanklag in die hof verskyn, maar het nie vir dié saak opgedaag nie. Hy is volgens Alexander in Oktober verlede jaar in hegtenis geneem in verband met 15 aanklagte van bedrog en vervalsing en is daarna borgtog in die Boksburg-landdroshof toegestaan.

Volgens Alexander is hy egter Vrydag na die Mall of Africa in Gauteng nagespoor, waar hy eindelik in hegtenis geneem is. Nelson het aanvanklik ontken dat hy die persoon is na wie die polisie soek en het ʼn ander naam verskaf. Hy is ten spyte hiervan steeds in hegtenis geneem en behoort binnekort in die landdroshof op Fochville te verskyn.

Grant Nelson. (Foto: Royal Investigations)

Alexander sê Nelson het vermoedelik beplan om die land te verlaat en het reeds paspoort- en visumaansoeke ingedien voor hy verlede week aangekeer is.

Sommige van Nelson se vermeende slagoffers sluit in ʼn vrou van Potchefstroom wat hom R24 000 vir beddegoed betaal het, ʼn vrou van Seepunt wat hom R7 000 vir 20 eetstelle betaal het en ʼn vrou van Amanzimtoti wat hom R30 000 vir beddegoed en komberse betaal het. ʼn Vrou van Brits is R16 750 kwyt nadat sy Nelson glo vir 40 eetstelle betaal het wat nooit opgedaag het nie.

Nelson se modus operandi is oënskynlik om verbruikers te beloof om billik geprysde items, wat hy met mooi foto’s op Facebook adverteer, gratis te versend. Hy verkry dié foto’s van die internet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

16 Kommentare

jongste oudste gewildste
Persheks Adri

Gewoonte misdaderig lyk dit vir my! Voorheen los op vervalsing en bedrog nogals 15 klagtes. Lekker regstelsel in SA!

Stefan

Maak van hom ‘n voorbeeld met die maksimum straf moontlik.

Vriendelike Frikkie

Hy het sy bed opgemaak,
nou moet hy slaap daarin…

Jan

Nou wie is so dom om R30,000 aan iemand te betaal wat goed op facebook adverteer, sonder dat jy hom al ooit gesien of weet waar hy woon nie? Is daar in die moderne tye nog steeds so baie gullible mense?

Dries

Die storie het nog ‘n verdere interessante kinkel gehad volgens ‘n ander koerant, gister. Het sommer baie lekker gelag vir die gedoente.