Vermeende beddegoed-bedrieër steeds soek

Een van die beddegoedstelle wat aanlyn geadverteer word.

ʼn Private ondersoeker het mense gewaarsku om bedag te wees op ʼn vermeende bedrieër wat items soos eet-, slaapkamer- en badkamerstelle asook komberse en matte aanlyn aan mense verkoop – en dan spoorloos verdwyn sodra hulle daarvoor betaal. Sommige van sy slagoffers het tot R30 000 betaal vir produkte wat hulle nooit ontvang het nie.

John Alexander, ʼn private ondersoeker van Kaapstad, sê die polisie het reeds ʼn lasbrief vir Grant Nelson se inhegtenisneming uitgereik. Hy help die polisie met die ondersoek. Volgens Alexander het Nelson glo reeds meer as 100 mense so ingeloop.

Nelson is vermoedelik in die Boksburg-omgewing, maar het volgens die ondersoeker ook ʼn adres in Germiston.

Een van die groepe waarop produkte geadverteer word.

Volgens Alexander is Nelson “nie werklik in besit van enige van die items nie. Hy beloof om die billik geprysde items, wat hy met pragtige foto’s op Facebook adverteer, gratis te versend. Hy verkry dié foto’s van die internet.”

Volgens hom is Nelson in Oktober verlede jaar in hegtenis geneem in verband met 15 aanklagte van bedrog en vervalsing. Hy is borgtog in die Boksburg-landdroshof toegestaan.

“In hierdie stadium gaan hy net voort met die [beweerde] bedrog en adverteer hy weereens dieselfde produkte op ʼn ander Facebook-blad genaamd Infamiss.”

Alexander sê Nelson het intussen sy profielfoto na dié van ʼn vrou verander.

Volgens hom het Nelson se regsverteenwoordiger hom intussen ook as kliënt laat vaar nadat Nelson glo vervalste bewyse van betaling aan die prokureur gestuur het. Hy het egter geen betalings gedoen nie.

Alexander sê van Nelson se slagoffers sluit in ʼn vrou van Potchefstroom wat hom R24 000 vir beddegoed betaal het, ʼn vrou van Seepunt wat hom R7 000 vir 20 eetstelle betaal het en ʼn vrou van Amanzimtoti wat hom R30 000 vir beddegoed en komberse betaal het. ʼn Vrou van Brits is R16 750 kwyt nadat sy Nelson glo vir 40 eetstelle betaal het wat nooit opgedaag het nie.

Daar is intussen ook ʼn Facebook-blad begin waar sommige van Nelson se vermeende slagoffers inligting uitruil en ander verbruikers teen die beweerde bedrogspul waarsku.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Jaco ·

Presies dieselfde het lassjaar met Love & Lace Vereeniging gebeur. Baie mense het duisende rande spandeer en toe is hulle oornag weg na hope lee beloftes. Mense is geblok en “Lindie” is weg met die geld.

Christi ·

Jaco. Ek het vir haar gewerk ‘n paar jaar terug. Soek jy meer inligting, adres?

Tanya ·

Toema elke hond kry sy dag! Haat eintlik die gesegde want honde is eindelik sulke wonderlike wesens.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.