Vermeende bendebaas in Kraaifontein doodgeskiet

(Argieffoto: Miguel Roberts/AP)

’n Vermeende bendeleier wat saam met twee ander verdagtes teregstaan vir die moord op Brian Wainstein, die sogenaamde steroïedkoning, is Dinsdagaand in sy huis in Kraaifontein in die Wes-Kaap doodgeskiet.

Die Wes-Kaapse departement van gemeenskapsveiligheid het in ʼn verklaring gesê William “Red” Stevens (66) is die aand omstreeks 18:35 in sy huis in Scottsville deur drie verdagtes oorval en doodgeskiet.

Polisie in die Wes-Kaap ondersoek tans die moord en verwag om die verdagtes binnekort in hegtenis te neem.

Stevens sou volgende Dinsdag saam met twee ander verdagtes in die landdroshof in Kaapstad verskyn het vir die moord op Wainstein. Die drie is in Desember op borgtog van R100 000 elk vrygelaat.

Die drie beskuldigdes: Stevens, ʼn vermeende leier van die berugte 27’s-bende, Mark Lifman, ʼn omstrede sakeman, en Jerome “Donkie” Booysen, vermeende leier van die Sexy Boys-bende, is al drie na bewering prominente figure in die onderwêreld.

Maroela Media het vroeër berig Wainstein is op 18 Augustus 2017 in sy bed in sy huis in Constantia doodgeskiet waar hy langs sy vrou en kind gelê en slaap het.

Drie mans is vroeër verlede jaar in die saak gevonnis. Hulle is almal lede van die 27’s-bende.

Bronne het voorheen beweer dat Wainstein die verkeerde kant “gekies” het en om dié rede “uitgehaal” is.

Ten tyde van sy moord het Wainstein ook sy uitlewering aan die VSA teengestaan. Hy is daar gesoek vir dwelmverwante aanklagte en geldwassery. Wainstein is ook deur Interpol gesoek nadat hy glo onwettige steroïede aan sportsterre wêreldwyd verskaf het.

Albert Fritz, Wes-Kaapse LUR van gemeenskapsveiligheid, het ʼn beroep op die Scottsville-gemeenskap gedoen om kalm te bly.

“My departement het na Stevens se moord die polisie gekontak om die gebied te patrolleer en kalm te hou,” sê Fritz.

“Ons kan nie toelaat dat ons gemeenskappe plekke van onstabiliteit of geweld word nie.”

Enigiemand met meer inligting oor Stevens se moord kan die polisie se Stop Misdaadnommer by 08600 10111 kontak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Casper

Dit is ongetwyfeld ‘n bende verwante moord.As ek reg kan onthou was daar ook ‘n aanslag op Booysen se lewe so paar jaar terug.Wainstein sou nog gelewe het as hy uitgelewer was.Die onderwêreld is ‘n bose plek waaruit jy moet bly.’n Lewe beteken vir hulle niks en as jy in die pad is word jy verwyder.

Ferryman

Daar is ‘n verskriklike traagheid vanaf SAPS wanneer ‘n kind deur n dwaalkoeel op die Kaapse Vlakte doodgeskiet word, maar skielik is daar ‘n hoe vlak ondersoek as ‘n dwelm of bendebaas geskiet word.