Vermeende bendelede vas ná gru-moord op tiener

boeie

(Argieffoto: SA Polisie)

Vyf mans is in hegtenis geneem nadat ’n tienermeisie van Helenvale in Port Elizabeth vandeesweek om die beurt verkrag en toe vermoor is.

Nog inhegtenisnemings word verwag.

Kol. Priscilla Naidu, woordvoerder van die polisie, sê die polisie het Donderdag omstreeks 08:30 inligting ontvang van ’n liggaam met verskeie steekwonde wat in die bosse tussen Gelvandale en Algoapark aangetref is.

Die liggaam is Vrydag as dié van die 14-jarige Patronicia (Mandy) Jordaan van Kobusweg in Helenvale geïdentifiseer. ʼn Familielid het Mandy Maandag vir die laaste keer lewend in die straat waar haar ouerhuis is gesien.

ʼn Grootskaalse soektog is Saterdag omstreeks 06:00 na die verdagtes van stapel gestuur waarna die eerste twee verdagtes omstreeks 07:15 by ’n huis in Ou Stanfordweg in hegtenis geneem is. Nog drie verdagtes is etlike minute daarna by huise in Bongo- en Pienaarstraat in hegtenis geneem.

Naidu sê daar word vermoed dat Mandy Dinsdagaand in die geselskap van 12 mans by die huis in Bongostraat was waar sy glo om die beurt verkrag is. Die mans is Woensdag teen 03:00 in twee groepe by die huis weg. Mandy is saam met ’n groep van ses mans daar weg waarna haar liggaam die volgende dag in die bosse aangetref is.

Die verdagtes wat in hegtenis geneem is, sal na verwagting Maandag in die landdroshof in Port Elizabeth verskyn op aanklag van moord en verkragting.

Lt.genl. Liziwe Ntshinga, Oos-Kaapse polisiehoof, het haar skok oor die verkragting en moord uitgespreek.

“Geweld teen kinders mag nie verdra word nie en ons sal toesien dat die skuldiges borgtog geweier word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.