Vermeende blouligbende aangekeer

Die verdagtes het glo blou ligte gebruik het in voorvalle van kaping en roof (Foto: Verskaf)

Drie verdagtes sal na verwagting Vrydag in die landdroshof op Balfour, Mpumalanga, verskyn nadat hulle glo blou ligte gebruik het in voorvalle van kaping en roof.

Brig. Leonard Hlathi, woordvoerder van die polisie, sê die verdagtes het hulself as polisiebeamptes voorgedoen en motoriste op die N3 by Grootvlei en N12 by Delmas na bewering beroof of gekaap.

Ná ’n vlaag rooftogte en kapings wat die afgelope ruk op dié snelweë aangemeld is, het die polisie ʼn intelligensie-gedrewe operasie van stapel gestuur wat deur lede van die polisie op Balfour, Grootvlei en Greylingstad uitgevoer is. Dit het Woensdag tot die inhegtenisneming van drie verdagtes, tussen die ouderdom van 30 en 32 jaar, gelei.

“Terwyl polisielede op die N3 naby Grootvlei besig was met patrollie, het hulle ʼn verdagte wit Toyota Legend 45- dubbelkajuitbakkie met drie mans daarin opgemerk. Dit het ooreengestem met die beskrywing van die voertuig van die verdagtes,” sê Hlathi.

Die polisie het ook ’n speelgoedgeweer (Foto: Verskaf),

“Die polisie het die bakkie gestop en deursoek. ʼn Blou lig sowel as ʼn sirene is in die voertuig gevind. Die insittendes kon nie ʼn behoorlike verduideliking gee waarom hulle in besit van dié items was nie.”

Die polisie het ook ’n speelgoedgeweer, medikasie en ander items wat vermoedelik gesteel is, in die motor gevind.

Die verdagtes is daar en dan in hegtenis geneem en hul voertuig is gekonfiskeer vir verdere ondersoek.

“Afgesien daarvan dat die verdagtes hulle as polisiebeamptes voorgedoen het, staan hulle ook tereg op aanklag van die besit van vermoedelik gesteelde goedere sowel as ’n vuurwapen.”

Volgens Hlathi kan die polisie nie die moontlikheid uitsluit om die verdagtes aan ander misdade wat elders in die provinsie gepleeg is, te verbind nie.

Lt.genl. Semakaleng Manamela, provinsiale kommissaris in Mpumalanga, het die inhegtenisnemings verwelkom.

“Ons is bemoedig deur hierdie deurbraak nadat talle soortgelyke voorvalle van roof en kaping – waarby verdagtes met voertuie met blou ligte toegerus is – aangemeld is,” het Manamela gesê.

Die kantoor van die provinsiale polisiekommissaris in Mpumalanga het verskeie waarskuwings aan motoriste gerig om waaksaam te wees. Onlangs is nog ʼn slagoffer doodgeskiet deur mense wat hulle as polisiebeamptes voorgedoen het en sy motor op die R50 tussen Delmas en Bronkhorstspruit wou kaap.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

E ·

Ja groot gedruis oor die 3, maar dis ‘n druppel in die emmer. More ontsnap hulle ook nog weer. Nou ja Suid Afrika se publiek is gelukkig met krummels nè. Jammer vir al die slagoffers van die 3.

Sarel ·

Blouligbende R59…
Waar kom toerusting vandaan?
Niu word daar verwag jy moet stop vir ‘n Bloulig???
Minister Cele…wanneer ontwapen jy die
Misdadigers

E ·

Blykbaar is daai blou liggies by enige Chinese winkel te koop. So hoor ek. Ek sien hulle wys die lang blou ligte in die foto. ?

Cherokee ·

re: ‘Die kantoor van die provinsiale polisiekommissaris in Mpumalanga het verskeie waarskuwings aan motoriste gerig om waaksaam te wees.’

Dìt beteken seker ‘jaag weg as julle blou ligte of ‘n polisieman sien’. Wat ander kon hy bedoel het met ‘wees versigtig’? Dit behoort duidelik uitgespel te word aan die publiek sowel as aan die cops, wat ‘n publieke motoris moet doen wanneer gekonfronteer word met blou ligte en polisie uniforms.

Kathleen ·

dit is lekker om positiewe gedagtes aangaande ons Blou Pette te lees . Dit kan nogal vreesaanjaend wees wanneer ‘n voertuig met ‘n sirene en bloulig skielik agter jou verskyn , 1ste gedagte is nou wat nou , wat het ek verkeerd gedoen en dan natuurlik 2de gedagte is jy moet so gou moontlik van die pad aftrek , maar dan wonder jy is dit veilig . Welgedaan aan al die manne in blou wat daarby betrokke was , dit is tyd dat al sulke booswigte agter tralies beland .

Jack ·

Wat help waaksaam te wees as jy niks mag doen nie en dikwels aangekla word vir moord of poging tot. My mening is om nie te stop nie veral as jy die enigste op die pad is. Sou sake versleg wees gereed om te bakkei.

Elinette ·

O NOU VERSTAAN EK …. Die polisie het ook ‘n speelgoedgeweer …. Dís hoekom hulle nie misdaad kan bekamp nie – omdat hulle speelgoedgewere het. Maroela Media sê so.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.