Vermeende dwelmhandelaar vas ná jaagtog

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Pixabay)

ʼn Vermeende dwelmhandelaar wat die polisie in ʼn jaagtog wou ontduik, is in hegtenis geneem nadat hy in ʼn motorongeluk betrokke was.

Dwelms ter waarde van miljoene rande is danksy die inhegtenisneming teruggevind.

Zinzi Hani, woordvoerder van die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke), sê dit het aan die lig gekom dat ʼn man Donderdag talle mandrax-tablette in die omgewing van Kaapstad vervoer.

Lede van die Suid-Afrikaanse narkotikaburo (Saneb) en die misdaadintelligensie-teennarkotika-eenheid het die verdagte in Kaapstad opgespoor en in sy motor aangekeer.

“Die verdagte het op die vlug geslaan wat tot ʼn blitsjaagtog met die polisie gelei het,” sê Hani.

“Die jaagtog het egter kort daarna in die Tokai-omgewing geëindig nadat die verdagte in ʼn motorongeluk betrokke was.”

Die verdagte se motor is deursoek en ongeveer 82 000 mandrax-tablette is in die kattebak aangetref.

Dié dwelms het ʼn geskatte waarde van meer as R3,2 miljoen.

Die 36-jarige man is in hegtenis geneem en sal na verwagting Dinsdag in die Wynberg-landdroshof op aanklag van dwelmhandel verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.