Vermeende Facebook-reeksverkragter laat vaar borgtog

Argieffoto (Foto: Hans Braxmeier/Pixabay)

ʼn 35-jarige man, wat vroue tussen 19 en 34 deur Facebook geteiken en na bewering verkrag het, het sy aansoek om borgtog laat vaar.

Kol. Adéle Myburgh, woordvoerder van die polisie, sê die man het tussen Junie en Oktober 2021 vir die vroue werk aangebied in Klipgat, Loate, Soshanguve en Rietgat. “Hy het hulle genooi vir ʼn onderhoud en ʼn afspraak met hulle gemaak om hulle in persoon te ontmoet. Tydens hul eerste afspraak is die slagoffers na ʼn afgeleë bebosde gebied geneem waar hulle oorval, met ʼn vuurwapen of mes gedreig is, van hul persoonlike besittings beroof en uiteindelik verkrag is.”

Die verdagte is op 19 Oktober by ʼn vulstasie in Soshanguve aangekeer. “Hy het Vrydag in die Ga-Rankuwa-distrikhof verskyn waar hy sy formele aansoek om borgtog laat vaar het. Hy bly in aanhouding.”

Die man staan tereg op 15 aanklagte van verkragting en nog 10 aanklagte oor gewapende roof, poging tot moord en ontvoering. Hy moet op 22 Februarie 2022 weer in die hof verskyn.

Die ondersoek duur voort en die verdagte kan moontlik ook met ander sake verbind word, het Myburgh bygevoeg.

Lt.genl. Sello Kwena, provinsiale polisiekommissaris van Noordwes, maan die publiek om uiters versigtig te wees wanneer hulle voornemende werkgewers of vriende vir die eerste keer ontmoet – veral ná hulle slegs op sosiale media ontmoet het. Hy maan die publiek om iemand nie alleen te ontmoet vir die eerste keer nie, maar eerder by openbare plekke waar ander mense jou kan beskerm.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Di ·

Glo my as borg wel toegestaan word gaan julle hom noit weer kry nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.