Vermeende Facebook-verkragter in die hof

(Foto: Thomas Ulrich/Pixabay)

ʼn 32-jarige man, wat as die “Facebook-verkragter” bekend staan, het in die Odendaalsrus-landdroshof in die Vrystaat verskyn op aanklag van verkragting.

Kol. Thandi Mbambo, woordvoerder van die polisie, het gesê die saak is tot 29 Junie uitgestel vir ʼn formele aansoek om borgtog.

Die man is in hegtenis geneem ná hy ʼn vrou deur Facebook gekontak het en haar gelok het om hom op 20 Junie 2020 in Odendaalsrus te ontmoet waarna hy haar verkrag het.

Maroela Media het vroeër berig die 25-jarige vrou, van Welkom, het na Odendaalsrus gereis om ʼn mansvriend te ontmoet wat sy deur Facebook leer ken het, vir hul eerste direkte ontmoeting. Tydens die ontmoeting het die man ʼn gesigmasker gedra en hy was nie bekend aan die vrou nie.

Volgens berigte het die verdagte die slagoffer met ʼn mes gedreig en haar na die bosse geneem agter ʼn laerskool waar hy haar glo verkrag het. Hy het haar daarna R20 gegee sodat sy kon terugkeer na Welkom.

Die vrou het die saak by die Kutlwanong-polisie aangemeld waar ʼn saak van verkragting aanhangig gemaak is.

Terwyl sy nog by die polisiestasie was, het sy ʼn oproep van haar vermeende aanvaller ontvang en hy wou om verskoning vra vir dit wat gebeur het. Hy wou haar graag weer sien.

Die polisiebeamptes het ʼn plan beraam om die verdagte aan te keer en die vrou voorgesê wat om vir die verdagte te sê om ’n moontlike inhegtenisneming te bewerkstellig. Die verdagte is later in die omgewing van Lengoeleng in hegtenis te neem.

“Die verdagte was tydens die inhegtenisneming in die besit van die selfoon waarmee hy met die slagoffer gepraat het, ’n swart mus en swart handskoene. Nog bewyse is later by die misdaadstoneel ingewin vir forensiese ondersoek,” het Mbambo gesê.

Lt.genl. Baile Motswenyane, provinsiale polisiekommissaris, het vroue gemaan om versigtig te wees wanneer hulle van sosiale media gebruik maak, omdat seksuele oortreders dié platforms gebruik om toe te slaan op niksvermoedende vroue. Hy het die beamptes geloof vir hul vinnige reaksie.

Dít volg kort nadat ’n vermeende reeksverkragter in Noordwes in hegtenis geneem is wat glo ook van sosialemedianetwerke gebruik gemaak het om sy slagoffers te lok.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Eerlik ·

In vandag se wereld/SA doen mens sulke stupid goed, regtig?

Genis ·

Ja nee wraggies, hoe doen mens nog sulke goed, met al die misdaat en gaos wat in SA aan die gang is..

Willem ·

OH WEE..;. verkragter in die VRYSTAAT? gelukkig nie in Bloemfontein nie daar werk die regters en advokate te lekker saam die facebook mannetjie sal beslis nie die binnekant van ‘n tronk sien nie…. maar hopelik in die hof waar hy nou is kan die regter nie OMGEKOOP word nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.