Vermeende foonsekspes aangekeer

(Argieffot: Andras Vas)

Drie maande nadat die polisie met ʼn soektog begin het na ʼn vermeende sekspes wat sy slagoffers glo telefonies geteister het, is die man agter tralies.

Die polisie in Gauteng se eenheid vir reeks‑ en elektroniese misdaad (SECI) is gevra om met die ondersoek na die beweerde teisteraar in Gqeberha (Port Elizabeth) te help en hy is Donderdag by ʼn huis in Walmer aangekeer, sê kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder.

ʼn Verslaggewer het die SECI en ʼn private ondersoeker glo genader en gevra vir hulp om die vermeende seksoortreder namens die slagoffers te help opspoor.

Daar is sedertdien met minstens 25 slagoffers onderhoude gevoer en die spesialiseenheid het vasgestel dat dieselfde werkswyse in elke geval gevolg word.

Die verdagte viktimiseer glo sedert Maart 2016 vroue landwyd. Hy sou eiendomsagente op die web soek, hul selfoonnommers bekom en hulle dan via ʼn WhatsApp-oproep bel. Die man sou dan glo onwelvoeglikhede kwytraak en selfs seksuele dade met homself doen terwyl die oproep nog aan die gang was, sê Naidu.

Met die hulp van die kuberintelligensie-eenheid het die SECI die verdagte nagespoor, in hegtenis geneem en op sy selfoon beslag gelê.

Hy het Vrydag in die landdroshof in Gqeberha verskyn op aanklag daarvan dat hy ʼn volwassene gedwing het om na selfmasturbasie te kyk, ontbloting en crimen injuria.

Hy bly in aanhouding en verskyn weer Maandag in die hof.

Die polisie het ook ʼn beroep op enige ander vroue gedoen wat moontlik ook ʼn slagoffer van die verdagte was om AO. Huligonda Smuts van die Walmer-speurtak te bel by 082 319 8707, of die polisie Stop Misdaadnommer by 08600 10111.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Junior

Jis dis vir my n nuwe woord sekspes pas uitstekend hoop hulle sluit hom lank toe voordat hy oorgaan tot iets erger

Naomi

Siek man sluit hom toe en gooi sleutel weg…genoeg tyd om te speel…waarna toe nie nog in staat…laat hy rot agter tralies

Janine

Ons leef in ‘n siek wêreld.

Mieke

Eerder staatsgevangene in psigiatriese hospitaal…. Nie normaal nie!!!’