Vermeende gewoonte-inbreker moontlik ook reeksverkragter

(Argieffoto: Unsplash)

ʼn Man wat vir verskeie voorvalle van huisbraak in Limpopo verskyn het, word nou ook met 18 verkragtingsake verbind.

Die 25-jarige man is danksy forensiese ondersoekwerk sedert sy inhegtenisneming in Februarie vanjaar met die verkragtingsvoorvalle verbind, het brig. Motlafela Mojapelo, polisiewoordvoerder in Limpopo, gesê.

Hy teister inwoners van Thohoyandou, Giyani, Makhado en Tzaneen glo al sedert 2014 en het vroue tussen die ouderdomme van 19 en 90 na bewering verkrag.

Die man het glo toegeslaan op vroue wanneer hulle in die veld in hul omgewings vuurmaakhout gaan optel het. Hulle is daar aangerand en dan verkrag.

In een van die voorvalle is ʼn 90-jarige vrou van Vuwani verkrag nadat ʼn man aan die deur van haar skoondogter se huis geklop en voorgegee het hy is die slagoffer se kleinseun.

“Nadat sy die deur oopgemaak het, het hy haar gegryp en verkrag, waarna hy van die toneel gevlug het,” het Mojapelo gesê.

Die man verskyn na verwagting Vrydag op 19 aanklagte van verkragting in die Giyani-landdroshof. Hy verskyn daarna ook in verskeie ander landdroshowe op aanklagte van diefstal en huisrooftog.

Volgens Mojapelo het die man reeds op sewe aanklagte van diefstal in die Giyani-landdroshof verskyn. Sy aansoek om borgtog is van die hand gewys.

Die waarnemende polisiehoof in Noordwes, genl.maj. Jan Petrus Scheepers, het die polisie, veral die lede van die sielkundige ondersoekeenheid en die reeks- en elektroniese misdaadondersoekspan, vir hul ondersoekwerk geloof.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
Elize

So hy moes eers baie vrouens se lewens verwoes voordat hy moontlik as die verkragter bestempel word. Nou word die polisie geloof vir die goeie werk! Genugtig hoekom het hulle nie vroeër hulle werk gedoen dan was daardie vrouens nog heel mense. Stukkende lappoppe wat nou op die ashoop van die lewe gaan lê terwyl ander ‘n klop op die skouer kry met “mooi so met die goeie werk”. Dit maak my siek

Pappa Beer

En om als net te vererger laat die fantastiese regering gevangenes elke paar maande by die duisende vry. Pateties.

Cherokee

Christel, jou skryfwerk is puik. Laat my egter toe om een verandering voor te stel. Dit is nie slegs vir jou maar ook vir ander by MM wat gewoonlik so skryf. ‘Ek dink’ (myns insiens dus) ‘n aansoek om borgtog kan eerder afgekeur word as van die hand gewys word. Van die hand gewys dui mi. op ‘n aanbod wat nie aanvaar word nie.