Vermeende huisrowers vas ná hoëspoedjaagtog

Foto: Benoni City Times

Foto: Benoni City Times

Twee vermeende huisrowers is Vrydag beseer en een in hegtenis geneem ná ʼn hoëspoedjaagtog en ʼn skietery met metropolisiebeamptes en lede van die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) in Benoni, Gauteng.

Hoofsuperintendent Wilfred Kgasago, woordvoerder vir die Ekurhuleni-metropolisie, het gesê GPF-lede het ʼn motor opgemerk wat glo gebruik is tydens ʼn huisroof in Farramere vroeër die week waar ʼn vuurwapenkluis met drie handwapens gesteel is.

“Die drie verdagtes het in die silwer VW Golf weggejaag en hulle het op die GPF-lede losgebrand,” het Kgasago gesê. “Die GPF-lede het die polisie se hulp ontbied.”

ʼn Lid van die metropolisie se misdaadvoorkomingtaakspan het vinnig reageer en op die verdagtes losgebrand. Een van die verdagtes is beseer en toe die ander twee probeer weghardloop, het een sy been gebreek. Die derde man is op die toneel in hegtenis geneem.

Die twee beseerdes is onder polisiebewaking na die Tembisa-hospitaal geneem. Die polisie het beslag gelê op ʼn .38 rewolwer.

Die verdagtes sal binnekort in die landdroshof in Kempton Park verskyn op aanklag van diefstal, poging tot moord en die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.