Vermeende huurmoordenaars vas ná skietery in KZN

Die wapens waarop daar beslag gelê is. (Foto: ANA)

Drie vermeende huurmoordenaars is in hegtenis geneem nadat twee mans Vrydag koelbloedig in Utrecht, KwaZulu-Natal, doodgeskiet is. ʼn Derde persoon is in die voorval gewond.

Kapt. Nqobile Gwala, woordvoerder van die polisie, het in ’n verklaring gesê drie mans het Vrydag omstreeks 13:30 in Voorstraat in ’n voertuig gesit toe die vermeende taxi-huurmoordenaars uit ’n voertuig in die verbyry op hulle losgebrand het.

Twee mans, vermoedelik tussen 30 en 40 jaar oud, is op die toneel doodgeskiet terwyl die derde man na ’n hospitaal geneem is vir mediese behandeling.

Volgens Gwala het die plaaslike polisie in samewerking met die honde-eenheid, beamptes van die polisie se taktiese reaksiespan, veiligheidsmaatskappye en plaaslike boere dadelik na die verdagtes begin soek en paaie in die omgewing afgesper.

“Die verdagtes se voertuig is tussen Dundee en Nquthu opgemerk. ’n Skietery het uitgebreek toe die owerhede die voertuig nader. Die verdagtes het hul voertuig agtergelaat en die bosse in gevlug terwyl hulle op die polisie geskiet het.”

Volgens Gwala is drie van die verdagtes in die bosse aangekeer. ’n Vierde verdagte kon egter daarin slaag om die polisie te ontduik en is in dié stadium steeds soek.

Drie AK47-gewere met 84 patrone is in die verdagtes se voertuig gevind.

Daar sal nou vasgestel word of die verdagtes verbind kan word met ander minibustaxi-verwante voorvalle wat in dié provinsie en in Gauteng aangemeld is, het Gwala gesê.

Die verdagtes sal binnekort in die Nquthu-landdroshof verskyn op aanklagte van moord, poging tot moord en die besit van onwettige vuurwapens en ammunisie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Sarel ·

SA is nie vernier die Huurmoord Mekka van die wereld nie.
Dankie vir almal betrokke veral die BOERE.
Nou gasn die Hof seker weer Borg toestaan

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.