Vermeende inbreker in Kakamas doodgeskiet

Die toneel in Kakamas by Louis Steenkamp se huis (Foto via Facebook)

ʼn Vermeende inbreker is Woensdagaand in ʼn egpaar, in hul 70’s, se huis in Kakamas in die Noord-Kaap doodgeskiet.

Brig. Mohale Ramatseba, woordvoerder van die polisie, het gesê die egpaar was tuis in hul huis op ʼn kleinhoewe in Cilliers toe ʼn onbekende man toegang wou bekom tot die huis.

“Die inbreker het glo die egpaar in die huis aangeval sonder dat hulle hom uitgelok het. Die egpaar se seun, wat daar naby woon, het gehoor van die aanval en hom na die toneel gehaas,” het Ramatseba bygevoeg.

“Die inbreker wou ook die seun aanval en die seun het skote op hom gevuur. Hy is noodlottig gewond.”

Die polisie ondersoek ʼn saak van moord. Niemand is nog in hegtenis geneem in verband met die voorval nie.

Die egpaar is in die hospitaal opgeneem vir geringe beserings en is reeds ontslaan.

Lede van die gemeenskap word versoek om die ondersoekbeampte, kapt. Klaas Fiks, by 074 259 6425 te kontak indien hulle kan help om die oorledene uit te ken.

Maroela Media verneem die voorval het by Louis Steenkamp se huis plaasgevind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.