ʼn Man het Vrydag brandwonde opgedoen nadat hy ʼn elektriese kabel naby ʼn treinstasie in New Canada, in die suide van Johannesburg, gesny het.
“Die man het op die grond lê en bloei toe ʼn tegnikus op hom afgekom het,” het Lillian Mofokeng, woordvoerder vir Metrorail Gauteng, in ʼn verklaring gesê. “Die tegnikus is omstreeks 06:00 ontbied om ʼn kragonderbreking in die gebied te ondersoek.”
Die man is na Baragwanath-hospitaal geneem en is tans onder polisiebewaking.
Hy het brandwonde opgedoen aan sy regterarm, linkerknie en nek en het snye op sy rug. Mofokeng het gesê die spoorwegmaatskappy word geteister deur kabeldiefstal in die gebied en dit lei tot vertragings vir Soweto-pendelaars.
“Ons waarsku alle oortreders en die algemene publiek om nie met elektriese kabels en ander infrastrukturele komponente te peuter nie, aangesien dit lewensgevaarlik kan wees en ook honderde pendelaars benadeel.
ʼn Saak van diefstal is by die Orlando-polisiestasie oopgemaak. -SAPA
Dis nie net peuter nie, dis peuter met die doel om te steel.