Vermeende kaper verongeluk in gesteelde motor

Foto: EMPD

ʼn Vermeende kaper is dood in vermoedelik dieselfde motor wat hy gesteel het.

Wilfred M. Kgasago, woordvoerder van die Ekurhuleni-metropolisie, het gesê die bestuurder van ʼn wit Porsche Cayenne-sportnutsvoertuig is op 24 Maart gekaap toe ʼn wit sedan, met flitsende blou ligte, hom omstreeks 10:00 by Hekpoort in die Magaliesburg-gebied voorgekeer het. “Die slagoffer is ontvoer, aangerand en van sy persoonlike besittings beroof. Hy is eers om 16:00 in Edenvale afgelaai.”

ʼn Man het op 3 April omstreeks 14:15 op die N3 in ʼn noordelike rigting, tussen die Heidelberg-oprit en Greylaan-afrit, met die gekaapte Porsche gery toe hy in ʼn enkelvoertuigongeluk betrokke was. “Die bestuurder het op die gladde pad beheer verloor oor die voertuig. Die voertuig het gerol en die man is uit die voertuig geslinger. Hy is deurboor toe hy op die palissade-heining by Verwoerdpark, wat langs die snelweg geleë is, beland het.”

Kgasago het gesê die bestuurder van die voertuig is vermoedelik in sy 20’s. Hy is nog nie uitgeken nie. Hy is op slag dood.

“Die polisie se ondersoek duur voort om die identiteit van die bestuurder te bepaal en hoe die gekaapte motor in sy besit gekom het. Die Porsche is afgeskryf.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Marius ·

As die voertuig met geweld afgeneem is bly dit kaap.Diefstal is as die voertuig gevat is sonder dat die eienaar bedreig was.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.