Vinnige optrede deur die polisie het daartoe gelei dat twee vermeende kapers vinnig in hegtenis geneem is kort nadat hulle Maandag ʼn voertuig by ʼn winkelsentrum in die ooste van Pretoria gekaap het.
Ao. Dave Miller, polisiewoordvoeder, het aan Maroela Media gesê ʼn afleweringsvoertuig is by die Glenfair-winkelsentrum gekaap. “Die polisie is ontbied, waarna ʼn polisiehelikopter uitgestuur is om te help soek na die kapers se motor en die gekaapte voertuig,” het Miller gesê.
Die polisiehelikopter het vinnig die verdagtes se motor, ʼn wit VW Golf 7, by die Watermeyerpark-winkelsentrum opgespoor. Die verdagtes het die motor verlaat en te voet probeer vlug voor hulle aangekeer is.
Die polisie het beslag gelê op vuurwapens en die verdagtes se voertuig.
Die polisie is steeds op soek na die gekaapte voertuig en ander verdagtes.