Vermeende kapers in Brits-omgewing vas

(Argieffoto)

ʼn Bende vermeende kapers wat motoriste glo in lokvalle gelei en hulle dan van hulle voertuie beroof het, is onder ʼn groep verdagtes wat die afgelope naweek in Noordwes in hegtenis geneem is.

Die altesaam sewe verdagtes staan tereg op verskeie aanklagte soos kaping, moord, die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie asook diefstal, het kol. Adéle Myburgh, polisiewoordvoerder, gesê.

Die misdade is die afgelope jaar in die Hartbeespoortdam-, Muldersdrift- en Atteridgeville-omgewing gepleeg.

Die inhegtenisnemings is in ʼn gesamentlike optrede tussen speurders van die Hartbeespoortdam-polisie, die eenheid vir sigbare polisiëring en die Brits Trio-taakspan gedoen.

Myburgh sê daar word beweer dat die verdagtes in sommige voorvalle vroue gebruik het om niksvermoedende motoriste in ʼn lokval te lei.

“Die vroue het voorgegee dat hulle hulp benodig of hulle het hulself as rylopers of prostitute voorgedoen,” sê Myburgh.

“Wanneer slagoffers dan langs die pad vir die vroue stilhou, het die verdagtes skielik uit die bosse gespring, die slagoffers oorrompel en die voertuie gekaap. In die meeste gevalle is motoriste ook van waardevolle items beroof.”

In een van die voorvalle het ʼn 44-jarige man in sy Toyota Corolla Quest op die R512, digby Hartbeespoortdam, gery toe ʼn Toyota Conquest skielik voor hom stilgehou het. In daardie stadium het ses verdagtes, van wie drie met vuurwapens gewapen was, die man oorrompel en met die wapens gedreig.

Die slagoffer is vasgebind en beroof van sy persoonlike besittings en sy voertuig. Die verdagtes het weggery en hom in die bosse gelos. Hy het terug na die pad gestap waar ʼn verbygaande motoris hom gehelp het.

In ʼn afsonderlike voorval het ʼn 44-jarige man glo ook langs die pad naby Hartbeespoortdam by ʼn vrou stilgehou. ʼn Groep mans het uit die bosse gestorm, die man met vuurwapens gedreig en hom beroof.

Ná ʼn omvattende ondersoek is sewe verdagtes in verband met die voorvalle vasgetrek.

Vier van die verdagtes, Abrahim Thobejane (37), Gaven Khumalo (39), Edgar Maluleka (40) en Koos Maite (37), het Maandag reeds in die Brits-landdroshof verskyn op aanklagte van motorkaping en roof met verswarende omstandighede. Hulle bly in aanhouding tot hulle volgende week weer in die hof verskyn.

Die oorblywende drie verdagtes sal na verwagting vandeesweek in die Atteridgeville- en Krugersdorp-landdroshof verskyn op aanklagte van kaping, moord en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie.

Lt.genl. Sello Kwena, die provinsiale polisiekommissaris in Noordwes, het die taakspan geloof vir hul harde werk om die skuldiges vas te trek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Althes

Baie dankie SAPD. Vir baie inwoners is dit ñ verligting.

JM

Ek kan my nie voorstel dat dit in enige ander land erger gaan as in Suid-Afrika nie! “Gangster paradise!” ‘n Uiterste skande en dan hoop die president op buitelandse beleggings!