Vermeende kinderverkragter vrees glo vir sy lewe

Die polisie het ‘n volskaalse soektog van stapel gestuur ná die dogtertjies verdwyn het (Foto: SAPD)

ʼn Man van Port Elizabeth wat daarvan beskuldig word dat hy twee dogtertjies, onderskeidelik vyf en ses jaar oud, ontvoer, aangerand en verkrag het, het Donderdag aan die New Brighton-landdroshof gesê hy vrees vir sy lewe as hy by St Albans-tronk aangehou sou word.

Die 49-jarige man het vir die tweede keer in die hof verskyn waar hy sy aansoek om borgtog laat vaar het. Hy staan tereg op ʼn reeks ernstige aanklagte en het aan die hof gesê hy versoek om by New Brighton-polisiestasie te bly, en nie na St Albans-tronk toe gestuur word nie.

Landdros Una Rhodes het gesê só versoek kan nie toegestaan word nie, en het beveel dat hy na St Albans oorgeplaas moet word. Sy het gesê sy sal versoek dat hy in ʼn enkelsel gehou word.

Die ouers van die twee meisies het hulle verlede maand as vermis aangemeld toe hulle nie huis toe gekeer het nadat hulle in ʼn veld in die Chris Hani- informele nedersetting gespeel het nie. Die twee meisies is nie bloedverwante nie.

Die polisie in die Oos-Kaap het ʼn grootskaalse soektog van stapel gestuur en het die meisies eers by vriende en familie in die gebied gesoek. Nog polisiebeamptes, die honde-eenheid en ʼn polisiehelikopter het ook later by die soektog aangesluit. Beamptes het ʼn deurbraak gemaak toe die sesjarige meisie agter die Chevrolet-stadion gevind is.

Kapt. Andre Beetge, woordvoerder van die polisie, het in daardie stadium gesê die meisie is ernstig aangerand en sy het meswonde aan haar kop en liggaam gehad. Sy is na die Dora Nzinga-hospitaal geneem. Sy kon inligting aan die polisie verskaf wat hulle tot ʼn plakkershuis in Chris Hani gelei het. Die vyfjarige dogtertjie is by dié huis saam met ʼn 49-jarige man gevind.

Mediese ondersoeke het bevind dat albei meisies verkrag is. Die man staan tereg op aanklag van ontvoering, verkragting en poging tot moord.

Lede van die gemeenskap het Donderdag buite die hof betoog.

Die man moet Vrydag weer in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Anoniem ·

Jammer “meneer”, die meisies het ook gevrees vir hulle lewe. Die Woord sê: wat jy saai, sal jy maai.

Maria Claassen ·

En die onskuldig kinders hoe bang moes hul nie gewees het nie!!!
Hoop jy vrot in daai selle!!!

Adam ·

My reaksie op die krimineel se geteem “laat my koud” in die woorde van ‘n oud-Minister van Justisie.

Martie ·

Hy moet vrees vir sy lewe.

Hopelik leef hy lank in vrees. Hy verdien wraggies nie beter nie!!!
?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.