Vermeende kitsbankrowers vas

(Foto: SA Polisie)

Drie mans is agter tralies nadat hulle vyf kitsbanke in die Jane Furse-winkelsentrum in Limpopo probeer beroof het.

Kol. Matimba Maluleke, woordvoerder van die Valke, het gesê die eenheid vir georganiseerde misdaad, ondersteun deur die taktiesereaksie-eenheid, het die gebied dopgehou nadat hulle ʼn wenk ontvang het dat die aanval vir Sondag in die vroeë oggendure beplan word.

Hulle het skielik ʼn ontploffing by een van die banke in die sentrum gehoor, waarna ʼn groep swaar gewapende verdagtes begin weghardloop het. Die polisie het hulle agternagesit.

“Toe hulle besef hulle word agtervolg, het die verdagtes op die polisie losgebrand en die beamptes het teruggevuur,” het Maluleke gesê.

“Die span het die verdagtes gevolg tot hulle wegkommotor teen ʼn muur in Middelburg vasgejaag het.”

Drie verdagtes, tussen 21 en 45 jaar oud, is in hegtenis geneem en die polisie het beslag gelê op plofstof, een vuurwapen en ʼn Toyota Fortuner.

“Een van die verdagtes is in ʼn hospitaal onder polisiebewaking nadat hy tydens die skietery beseer is,” het Maluleke gesê.

Volgens die voorlopige ondersoek het die verdagtes veiligheidswagte by die sentrum oorrompel en aangehou voordat hulle vyf kitsbanke met plofstof opgeblaas het. Geen kontant is gebuit nie.

Twee van die verdagtes verskyn Dinsdag in die landdroshof op Jane Furse op aanklagte van gewapende roof, opsetlike saakbeskadiging, die besit van plofstof en die besit van ʼn vuurwapen. Die derde verdagte sal in die hof verskyn sodra hy van sy beserings herstel het, het Maluleke gesê.

Die polisie het ʼn beroep op mense gedoen om kol. Batseba Ratshefola by 071 481 3237, of die polisie se Stop Misdaad-nommer by 08600 10111, met inligting oor die voorval te nader.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Adeline ·

OK ek het inligting!!! Die plofstof wat so oor die grens van Zim af gesmokkel word is juis om kits banke op te blaas – “Nice” nê!!

Scalla ·

Die gewonde rower kan mos inligting verskaf en sy partners in crime uitbring, daar is mos maniere om dit te kry.

Andre ·

Rooftogte ens word nou ‘n alledaagse tendens in SA.Jy kan jouself op enige dag in die spervuur bevind.Dit beklemtoon dat wet en orde nie diewe afskrik nie en dat daar geen effektiewe beheer oor misdaad is nie.

Tinker ·

Lees middelburg koerant 2 gevang, 1 in rug geskiet. Hulle is almal gevang naby waar hulle teen die muur tot stilstand gekom het. Polisie het terug gegaan na waar hulle springstof uit die kar gegooi het. Moet se hulle het vir n slag hulle werk gedoen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.