Vermeende lid van bloulig-bende aangekeer

Blouligbrigades (Foto: Pixabay)

Die polisie in Gauteng het dié week ʼn man aangekeer wat met blou ligte op sy voertuig en ʼn  vervalste lisensiekaart rondry.

Genl.maj. Fred Kekana, distrikskommissaris van die Wes-Rand, en ʼn polisiekonstabel was Donderdagaand op die R28 in Krugersdorp op pad toe hulle omtrent 18:35  ʼn verdagte ongemerkte Volkswagen Polo, met blou ligte op die dak, opgemerk het.

“Die twee het onmiddellik van die pad afgetrek en die bestuurder van die Polo ondervra. Die bestuurder het beweer dat hy ʼn polisiebeampte is en het wat lyk soos ʼn polisie-identiteitskaart aan die polisie gewys,” het lt.kol. Mavela Masondo in ʼn verklaring gesê.

“Toe Kekana hom verder hieroor uitvra, het dit duidelik geword dat hy inderdaad nié ʼn polisiebeampte is nie en dat hy nie toestemming het om in ʼn voertuig met blou ligte rond te ry nie.”

Die verdagte is ook met ʼn koeëlvaste baadjie van die polisie en ʼn gelisensieerde wapen betrap. Hy is in hegtenis geneem en sal waarskynlik Maandag in die Krugersdorp-landdroshof verskyn op aanklagte daarvan dat hy hom voorgedoen het as ʼn polisiebeampte, asook die besit van blou ligte sonder die nodige toestemming.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.