Vermeende Manenberg-katslagter aangekeer

Beamptes van die Dierewelsynsvereniging op die perseel in Manenberg (Foto: Animal Welfare Society/Facebook)

Die vermeende eienaar van twee honde wat glo verantwoordelik is vir die aanval op minstens twee katte in die Manenberg-gebied en wat die hoofverdagte is in die gewelddadige slagting van minstens 42 katte die afgelope maand, is aangekeer en word formeel ondervra.

Die Dierewelsynsvereniging het in ʼn verklaring gesê die man het na bewering ʼn kriminele rekord (vir ʼn afsonderlike misdaad) en het reeds vyf jaar in die tronk deurgebring. Hy het nie enige weerstand gebied toe hy Vrydag aangekeer is nie.

“Hy het tydens die rit na die polisiestasie ook nie ʼn woord gesê nie. Hy is in ʼn aanhoudingsel geplaas en sal ondervra word deur die ervare SAPD-speurdersersant Mzanzi wat al die afgelope 18 jaar die gemeenskap van Manenberg dien.”

Die twee honde het intussen goed aangepas in hul liefdevolle nuwe omgewing. Hulle sal onafhanklike gedragstoetse ondergaan.

“Dit is geen toeval nie dat, sedert ons eerste besoek aan die eiendom en sedert ons op 16 Augustus beslag gelê het op die honde, daar geen verdere slagtings plaasgevind het nie.

“Deur die verdagte te ontneem van sy vermoë om te jag, het ons ʼn beslissende hou toegedien en ongeag die uitslag van ʼn moontlike saak, verteenwoordig dit ʼn oorwinning vir die katte en beleërde gemeenskap wat al te lank in spanning leef.”

Die honde wat in Manenberg gered is, is tans in veilige bewaring (Foto: Animal Welfare Society/Facebook)

Die vereniging se span het met toestemming die eiendom deursoek en op ʼn babahondjie afgekom tussen die afvalmateriaal op die perseel. Niemand het eienaarskap aanvaar nie en hy is ook in die sorg van die vereniging geplaas.

“Ons het so ver as wat ons moontlik kon gevorder met hierdie ongekende dieremishandelingsaak en ons gee nou die saak oor aan die SAPD vir verdere ondersoek sodat hulle hopelik ʼn skuldigbevinding kan verseker.”

Die vereniging bedank ook almal wat ʼn bydrae gemaak het tot die beloning wat nou reeds op R20 000 staan. Dit is steeds beskikbaar vir enigiemand wat inligting kan gee wat kan lei tot die suksesvolle vervolging van die oortreder(s). Skakel 021 692 2626 of 082 601 1761 om enigiets verdag aan te meld.

Maroela Media het vroeër berig die Dierewelsynsvereniging se Philippi-tak in Kaapstad het Dinsdag twee honde gevang wat moontlik by die katslagtings betrokke was. Dié honde –  ʼn Amerikaanse veghond-kruising en ʼn korthaarterriër-kruising – is op kringtelevisiemateriaal verfilm waar hulle glo op die katte afstorm en hulle aanval. Volgens Allan Perrins, woordvoerder van dié organisasie, word die moontlikheid dat die honde deur iemand uitgelok is om dit te doen, ondersoek.

Daar word vermoed dat die honde deur hul eienaars gebruik word om die katte te vang, waarna die eienaars dan voortgaan om die katte dood te maak, oop te sny en hul ingewande te verwyder. Al die dooie katte wat tot dusver gevind is, se mae is oopgesny en die ingewande is netjies langs die oorskot geplaas. Die katte is van kop tot stert oopgesny. Wat veral vreemd is, is die kwessie dat daar op al die tonele nie ʼn druppel bloed gevind is nie. So asof die kat eers skoongewas is.

Perrins sê beeldmateriaal wys hoe die niksvermoedende katte rustig sit voordat die honde op hulle afstorm. “Wat vreemd is, is hoe die honde rustig in die straat ronddwaal en dan binne ʼn breukdeel van ʼn sekonde na die katte hardloop en hulle aanval, so asof hulle uitgelok word,” het Perrins gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Hein ·

Mooi so. Nou probeer nou ook moorde oplos wat al 3jaar uitstaande is asb

Ronel ·

Goeie werk an die lede van die DBV!!! Daai honde ken ook seker nie liefde en aandag nie. hoop hulle kan suksesvol aangeneem word en ‘n liefdevolle huis kry wat hulle verdien

melW ·

Vir die eerste keer voel hulle liefde, mense is ver benede, ń hond bly jou beste vriend, ek hoop uit my hart dat hulle ń genade en mooi lewe sal leef.

Deon ·

Kan hulle sommer nou ook die minister wat diere van honger laat vrek het opsluit, honger is n erge uitgerekte dood.

Harley Davidson ·

Die ervare sersant is al 18 jaar in die polisie en het nog net een keer bevordering gekry moes hy nie al ten minste ‘n kolonel gewees het nie?

Frank John ·

Wel, dis seker nie reg wat daar gebeur het nie. Klink of die honde opgelei is en dan op ‘n sekere manier die bevel ontvang om op te tree.
Waar ek bly het die buurvrou katte gevoer deur bakke kos buite te plaas en dit het al rondloop katte in die omgewing het by haar ingetrek. Ek het honde en hulle het katte gevang en dood gebyt wat in my erf gekom het. Meer as 25 katte. Ek het toe ‘n vang hok gemaak, katte gevang en SPCA toe geneem en in hul sorg gelos. Die honde was nooit geleer om dit te doen nie. Dit was hul natuur.

Frank John ·

Ek het vrou gevra of dit haar katte is en sy sê nee. As jy ‘ n dier kos gee en dit raak afhanklik van jou sê ek dis joune.
In Kaapstad vang die huiskatte meer as 20000 klein spesies in die wildtuin op Tafelberg jaarliks. Somige spesies is amper uitgewis. Mense moet hul troetel diere beheer en voer.

Casper ·

Is die honde uitgelok om die katte aan te val of is hulle aangehits.Daar is ‘n groot verskil.Het die katte die honde uitgelok of het die eienaar hulle aangehits.Die ritueel wat gevolg het is uitgevoer deur ‘n baie sielsiek persoon.

Hasie ·

Laat die skuldige diens doen by die plaaslike DBV en al die “vuil ” werk te verrig en met ‘n duidelike drag klere wat hom uitwys oor sy misdaad. Sodat almal sal weet wie en wat hy is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.