Vermeende moordenaar se gesin geteiken

Die verdagte se ouers se huis is glo aan die brand gesteek (Foto: Verskaf)

Die gemeenskap van die Lunungwi-nedersetting naby Thohoyandou in Limpopo het klaarblyklik reg in eie hande geneem en ’n vermeende moordenaar se familie aangerand en hul eiendom vernietig. Die

23-jarige verdagte, Muano Maphula, word verbind met die onlangse moord op ’n 90-jarige vrou en haar 54-jarige dogter. Hy is vermoedelik die buurman van die slagoffers.

Brig. Motlafela Mojapelo, woordvoerder van die polisie, sê die gemeenskap het Woensdag Maphula se jonger broer aangerand en ’n huis wat aan sy ouers en nog ʼn familielid behoort, aan die brand gesteek.

Dit volg ʼn dag nadat hy in verband met die moord op die bejaarde vrou Muvhulawa Mudzunga en haar dogter, Caroline Edzisani Muvhulawa, in hegtenis geneem is. Maroela Media het vroeër berig die ma en dogter se liggame is Sondag deur ander bure in die nedersetting aangetref. Hulle is albei verskeie steekwonde toegedien.

Die huis wat aan die brand gesteek is (Foto: Verskaf)

Maphula het Woensdag in die landdroshof in Thohoyandou verskyn op twee aanklagte van moord. Sy aansoek om borgtog is teengestaan en hy sal na verwagting weer op 20 November in die hof verskyn.

Lt.genl. Nneke Ledwaba, provinsiale polisiekommissaris in Limpopo, het die optrede van lede van die Lunungwi-gemeenskap wat self wou wraak neem ten sterkste veroordeel.

“Die polisie se ondersoekspan wat aangestel is om die moordenaar op te spoor sal nou ook die mense wat by die aanranding en brandstigting betrokke was, vastrek,” sê Ledwaba.

Mojapelo sê die polisie het twee klagte van brandstigting en ʼn saak van aanranding aanhangig gemaak.

Mojapelo sê enigiemand met meer inligting oor wie almal betrokke was by die brandstigting en aanranding, kan kol. Raphulo by 082 565 8179 bel of die polisie se misdaadnommer by 0860010111 skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Mallie ·

Baie geluk. Dit moes lankal begin gebeur het. Dan sal hullw twee keer dink.

katerinadiekat ·

Ek kan die woede verstaan maar dis ook nou nie juis regverdig teenoor sy familie nie. Ek hou daarvan om regverdigheid aan te hang in alles, en hierdie steek my bietjie dwars in die krop. As my man iemand moes gaan vermoor het, hoe sou ek voel as ek en ons kinders daaroor aangeval word? Two wrongs don’t make a right.

isabelle ·

GENADE DIS MOS NIE REGVERDIG NIE ek hoor wat julle se die mense is kwaad en neem dinge in hul eie hande! Maar hoekom nou die familie…wie se dis nie sout van die aarde tipe mense en jy kan hulle mos nie steenig vir wat daai moordenaar gedoen het nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.