Vermeende moordenaar wel vervolg

Argieffoto (Foto: QuinceCreative/Pixabay)

’n Verdagte wat glo in Januarie verlede jaar ʼn man in Richardsbaai, KwaZulu-Natal, doodgeskiet het, het Woensdag vir die eerste keer in die landdroshof op Ngwelezana verskyn. Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het aanvanklik besluit om nie die verdagte vir moord te vervolg nie, maar ná volgehoue druk vanaf AfriForum se privaatvervolgingseenheid wel daarmee voortgegaan.

Maroela Media het vroeër berig die klaer in die saak se man is op 26 Januarie verlede jaar in Richardsbaai doodgeskiet.

Die vrou en haar man het ’n oproer in die buurt opgemerk en ondersoek gaan instel. Die verdagte het ’n skoot afgevuur en die man in die proses doodgeskiet. Dieselfde koeël het die vrou in haar hand getref. Die vermeende moordenaar het in dieselfde buurt as die slagoffers gewoon.

Die oorledene se familie het weens die voorval besluit om na die VSA te emigreer.

“Die polisie het die misdaad ondersoek, maar die NVG het aanvanklik versuim om te vervolg. Dít ondanks die feit dat die polisieondersoek bevind het dat die koeël en gebruikte patroon, wat op die toneel gevind is, deur ’n vuurwapen afgevuur is wat in die beskuldigde se naam geregistreer is,” het adv. Phyllis Vorster, aanklaer by AfriForum se privaatvervolgingseenheid, vroeër gesê.

AfriForum het die vrou bygestaan deur ’n aansoek te bring vir ’n nolle prosequi-sertifikaat, waarna die NVG sy besluit om nie te vervolg nie, omgekeer het.

“Soms dink ’n mens jy kan nie meer geskok word deur die polisie en die NVG se traak-my-nieagtige houding as dit by sekere sake kom nie, maar dan gebeur só iets. Daar is duidelike bewyse dat die verdagte die dood van die slagoffer veroorsaak het en die ballistiese toetse wys selfs dat dit sy vuurwapen is wat in die voorval gebruik is. Tog het die owerhede besluit om nie te vervolg nie, totdat AfriForum se privaatvervolgingseenheid betrokke geraak het. Tóé ewe skielik besluit hulle om voort te gaan. Dit is uiters teleurstellend,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se veldtogbestuurder.

Die verdagte sal na verwagting weer Vrydag in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Kokkie

Skitterend, Afriforum.

Tiptol

Goeie werk Afriforum. Nes ek dink nuus in ons land kan my nie meer skok nie, dan lees ek iets soos die.

Jack

Weereens diskriminasie.

Danie

Ek sal regtig regtig graag wou weet wat was die NVK se rede om nie te vervolg nie.