ʼn 39-jarige man is Sondag in Zakariyyapark naby Lenasia in Gauteng in hegtenis geneem nadat hy glo ʼn 13-jarige meisie ontvoer het.
“Die polisie het ʼn padblokkade in die gebied gehou toe die man omstreeks 13:00 voorgekeer is met die 13-jarige by hom,” het ao Kay Makhubela, woordvoerder vir die polisie, gesê. “Hy het pornografiese materiaal by hom gehad en is in hegtenis geneem. Hy word aangekla van ontvoering, seksuele aanranding en die besit van pornografie.”
Die kind, vermoedelik van Lenasia, is na ʼn plek van veiligheid geneem.
Die man sal binnekort in die landdroshof in Vereeniging verskyn. -SAPA