Vermeende onwettige jagters vrygelaat

Van die honde wat op die toneel gevind is. Foto: Verskaf

Ondanks ʼn reusepoging Sondag deur lede van die gemeenskappe van Kameeldrift en Hammanskraal in die noorde van Pretoria om ʼn groep vermeende onwettige jagters vas te trek, is die verdagtes vrygelaat en geen klagte is by die polisie aanhangig gemaak nie.

ʼn Lid van die Kameeldrift-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) wat op die toneel was en verkies om anoniem te bly, het aan Maroela Media gesê daar is al ʼn geruime tyd ʼn probleem met onwettige jagters in die gebied.

“Die ouens daag met tussen 40 en 60 honde op in ʼn gebied en laat die honde enige dier wat oor hulle pad kom jag. Die ‘jagters’ laat die honde die diere plattrek en doodbyt en vat dan enige vleis wat oorbly,” het die bron gesê.

Volgens die bron probeer die polisie en die gemeenskap glo al ʼn geruime tyd om van die mense aan te keer, maar sonder enige sukses.

“Sondag omstreeks 09:00 het iemand verby die oop veld naby die Wallmansthal-weermagbasis gery en ʼn groep mense opgemerk. Soos ons verstaan is dit private eiendom, maar die gebied is nie omhein nie. Tog loop daar baie wild en beeste rond.”

Die bron het gesê die GPF het ʼn goeie radiokommunikasiestelsel waarop meer as 1 000 lede en belangrike rolspelers, onder wie nooddienste en polisiebeamptes, is.

“Die lid het aangemeld dat daar ʼn groep van nagenoeg 35 mense met vyf of ses voertuie opgemerk is en dat daar sowat 60 honde is, meestal windhonde, wat gereed maak om te jag.”

Hy het gesê binne 15 minute vandat die voorval aangemeld het, was daar verskeie lede van die gemeenskap op die toneel. “Iemand het ʼn hommeltuig in die lug opgestuur en ná ʼn paar uur is sowat 20 van die mense vasgetrek. Van hulle kon egter daarin slaag om te ontsnap.”

Beamptes van die Kameeldrift- en Hammanskraal-polisie asook die Tshwane-DBV is ontbied. Die Hammanskraal-polisie het die toneel oorgeneem en die mans is in ʼn konvooi na die Hammanskraal-polisiestasie geneem, terwyl die DBV nagenoeg 50 honde na hul skut geneem het.

“Van die honde was in ʼn haglike toestand met sere en stukkende plekke. Van hulle kon nie loop nie. Die publiek moes water aandra vir die honde om te drink.”

Sers. Margaret Molani, woordvoerder van die Hammanskraal-polisie, het Dinsdag aan Maroela Media bevestig die polisie was op die toneel en dat ʼn groep mans na die plaaslike polisiestasie geneem is.

“Niemand het egter ʼn saak oopgemaak nie en as daar nie ʼn klaer of genoegsame bewyse van ʼn misdryf is nie, kan ʼn saak nie ondersoek word nie. Die mense is dus vrygelaat,” het Molani gesê. Molani het bevestig dat nagenoeg 50 honde deur die DBV van die toneel verwyder is.

Andrew Kekana, ʼn inspekteur van die Tshwane-DBV wat ook Sondag op die toneel was, het Dinsdag aan Maroela Media bevestig nagenoeg 50 honde is na die DBV se skut geneem.

“Ons het die honde na die skut geneem, maar daar is nie op hulle beslag gelê nie. Daar was nie genoegsame bewyse dat die groep mense onwettig gejag het of iets wat tot ʼn inhegtenisneming kon lei nie. Die polisie het ook nie ʼn saak oopgemaak nie,” het Kekana gesê.

Kekana het bygevoeg dat die honde na die skut geneem is aangesien hulle deur hul eienaars in oorvol voertuie gelaai is. Die honde is by die DBV aangehou totdat die eienaars voldoende vervoer vir die diere kon reël.

“Die honde is almal deur ons veearts ondersoek en daar was geen rede vir kommer oor die diere se welstand nie. Nadat die eienaars, waarvan die meeste van Pretoria en Johannesburg afkomstig is, voldoende vervoer gereël het, is ʼn skriftelike waarskuwing aan hulle uitgereik om te verseker dat hul honde in die toekoms reg vervoer word.”

Kekana het gesê slegs twee van die 50 honde word steeds by die DBV aangehou om hul toestand te monitor.

“Ons het nie gronde gehad om die honde te hou nie. Die honde was nie ʼn slegte toestand nie, anders sou hulle nie in die sorg van hul eienaars vrygelaat word nie. Net die twee honde word steeds gemonitor. Geen hond is dood of moes van kant gemaak word nie.”

Volgens Kekana sal die DBV die situasie monitor vir toekomstige soortgelyke voorvalle. “Sou die polisie ʼn saak oopmaak, sal die DBV die polisie in die ondersoek bystaan. Daar sal ook opvolgbesoeke by die honde se eienaars se persele gedoen word om die toestand van die honde te monitor,” het hy gesê.

Die GPF-bron het gesê daar is wel glo ʼn karkas van ʼn bees in die oop stuk veld gevind, maar dit is nie duidelik wat die oorsaak van die dier se dood is nie.

“Ons het later Sondag uitgevind dat ʼn paar boere wat verder van die grond af is, ook onder soortgelyke voorvalle deurgeloop het. Hulle het aangedui dat hulle van plan is om sake aanhangig te maak,” het die bron gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Speedguard ·

Kom DBV , waarom nie ‘n klagte gele nie, moet daar dan ‘n klaer wees om ‘n kriminele saak te registreer die SAPS moes dit doen hulle tree dan namens die staat op,en moet hulle die saak ondersoek omrede dit in hul teenwoordigheid plaasgevind het, hoe dan nou ??

Whaaaa ·

Dis die DBV . te bang om asem te haal .. een dag vertel hulle jou die wette is aan hulle kant en gaan konfiskeer hulle vir Fiefie by tannie Marie omdat sy meer as twee honde op die erf het, die volgende dag mag hulle nie eers ‘n brandsiek hond van ‘n abusive eienaar wegvat nie .. Same old same old.

Diereregte ·

Die DBV moet diere insluitend wilde en plaasdiere beskerm, tog dink hulle net aan die di8rekte welstand van die honde. Die honde se doel was om ander diere dood te maak. Ek is klaar met enige bydraes vir die DBV.

E.K. die eerste ·

Ag hemel tog DBV!! Die toestand van die arme honde is genoeg om hul te hou. Julle het gans te veel “red tape” die dat sulkes wegkom met alles.

Lee ·

Wat ‘n aaklige lewe vir ‘n arme hond om sulke goed te doen. Hulle is veronderstel om liefde te kry. As die eienaars voertuie en brandstof kan bekostig kan hulle kos vir hulle self ook bekostig en nie nodig het om dit aan die arme honed te doen nie. Kom nou Tshwane SPCA. Ek kan wraggies nie glo dat van al daai honed julle net 2 terug gehou het nie of weet julle self nie hoe ‘n gesonde hond moet lyk nie.

Kietsie ·

Ja kyk die een met die GAT IN DIE NEK lyk vir my veral baie gesond .. het seker die eienaar ‘n MEDALJE gegee vir goeie sorg en onderhoud op die stomme dier.

Ag asb tog ·

Dis mos maar soos dit is . as jy die REGTE persoon in Suid Afrika is word geen klag teen jou gele nie en al word daar ‘n klag gele word dit geskrap of verdwyn dit net. DAAGLIKS is daar diere mishandeling . onwettige jagters op mense se plase . die diere wat jag is in die verskriklikste toestand dan word hulle weer TERUGGEGEE vir die useless eienaars … wetteloosheid . vernietiging . dieremishandeling . diefstal . dit is aan die orde van die dag. DIE HONDE WAS NIE in ‘n SLEGTE TOESTAND NIE?? EN DIE GAT AAN SY NEK??? is dit gephotoshop???????? More word hulle weer op die oorvol bakkie gegooi om te gaan jag … neewat . WETTE is waardeloos as die regstelsel nie help nie.

Phillip ·

DIE prok . is dan aangeklaae hoe nou verstaan nie so mooi nie dan kan hulle ook nie die prok vervolg nie

marous ·

Het hulle gaan frisbee speel met 60 honde ? Gaan kyk wat staan in in die Natuurbewarings wet sersant woordvoerder. Julle kon almal aangekla het.

Anoniem ·

Gooi n dooie hond in die straat en jy word van jou pos by jou werk onthef en word deur die dbv aangekla omdat jy blank is en gesiene is , maar omdat jy swart is kan jou hond sere he en vermaard wees en jy word net gewaarsku. DBV net so korrup.

Casper Labuschagne ·

Geen klag nie beteken geen saak nie, want ‘n misdaad is nog nie gepleeg nie, al was al die aanduidings en middele vir die voorneme om ‘n misdaad te pleeg reeds daar gewees. Ek vermoet dat die eintlike waarheid eerder te doen het met die ras van diegene wat hul eiendom en diere wou beskerm teenoor die ras van diegene wat aangekeer is asook die ras van die polisielede en daarom kon, of eerder wou, oortredings nie gevind word nie.

Andy ·

Wonder of die dbv, enige van daai ( skou ) honde gesterelisëer het. Oor paar maande is daar 120 ( skou ) honde

RH ·

Glad nie verbaas nie! Almal op die groep het hul tyd gemors! Almal moet eers skade aangedoen word en besittings of lewens verloor VOOR enige iets wettig sal gedoen word! Daai dbv is seker geld betaal en n hengse lot om so iets te se! Dis al deel van die storie wat sin maak.

Ondersteuning onttrek ·

Ek het al my ondersteuning aan die DBV onttrek want hulle is juis teen diereregte, dink net aan die plaasdiere en wilde diere wat nou doodgemaak gaan word deur hierdie honde.

Johnnie ·

Die DBV en polisie is maar ewe treurig jy kry niks met hulle uitgerig nie. Die eienaars het hulle almal seker weer omgekoop.

Brett ·

Ek het al sulke honde en ‘eienaars’ deur Allan’sNeck sien loop. Strubensvallei.

Sarel ·

Ja toemaar ek dink julle het die kat bietje aan die stert beet. Eerstens was die gebied blykbaar nie omhein nie,so enige persoon kan dit betree. Wat die klagte aan betref, die eienaar van die grond is die persoon wat ‘n kag moet indien. Blykbaar weet niemand wie dit is nie. Dankbaar nogtans aan die mense se optrede is ‘n ” misdaad” voorkom. Onwettige jag op privaat grond is groot probleem.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.