Vermeende plaasaanvaller doodgeskiet

(Argieffoto: Maroela Media)

ʼn Verdagte is Woensdagoggend doodgeskiet nadat hy en twee vermeende makkers op ʼn plaashuis in die Sundra-omgewing in Mpumalanga toegeslaan het.

Brig. Leonard Hlathi, polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media gesê ʼn egpaar, onderskeidelik 66 en 64 jaar oud, was vroegoggend tuis waarna die man na die plaas se hoofhek is en sy vrou alleen in die huis agtergebly het.

Volgens Hlathi het drie verdagtes die huis genader en die vrou beveel om die veiligheidshek van die huis oop te sluit. Een van die verdagtes het ʼn vuurwapen uitgepluk en die hek probeer oopkry, waarna die vrou kamer toe gehardloop en ʼn vuurwapen uit die kluis gekry het.

Die verdagtes het steeds gespook om die veiligheidsdeur oop te kry toe die vrou vanuit die slaapkamer teruggekeer en skote op hulle gevuur het. Dit het die verdagtes laat vlug.

Volgens Hlathi het ʼn speurder wat oorkant die betrokke plaas woon omstreeks 06:45 op pad werk toe skote gehoor en die plaaswag ontbied.

Die speurder en lede van die plaaswag het die rowers agternagesit waarna die verdagtes op hulle geskiet het. Die lede van die plaaswag het teruggevuur en een van die aanvallers is doodgeskiet.

Nog ʼn verdagte is in hegtenis geneem terwyl die derde verdagte op die vlug geslaan het. Dié is steeds soek.

Die polisie het op twee vuurwapens op die toneel beslag gelê, het Hlathi gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

13 Kommentare

jongste oudste gewildste
Onnie

Dit wil vir my lyk dis elke man/vrou vir hom self – dis nie asof die regering/polisie jou gaan/kan/wil help nie. Hierdie kriminele kom om te moor en te martel, hulle vra nie vra nie.

katerinadiekat

Mooi so!!!

Stefan

Pragtig Tannie, op jou hoede en paraat, al manier om te oorleef.

Johann

Ok? So die polisie kom NA die tyd en tel die gewere op? So ons kan maar self mik en begin met een een uithaal?

Persheks Adri

Wel gedaan! Vuur met vuur dit klink reg vir my! So dankbaar julle lewe. Ons moet paraat wees en ons wapens dra ongelukkig is dit die nuwe norm vir ons