Vermeende plaasaanvallers laat vaar borgtogaansoek

Dries Nieuwoudt (75) is in ‘n plaasaanval vermoor. (Foto: Verskaf)

Twee van Dries Nieuwoudt (75) en sy vrou, Mariana (69), se vermeende aanvallers het Maandag hul borgtogaansoek in die hof op Cullinan laat vaar.

Lawrence Makhubela en Jacob Maponyane is op 28 Januarie aangekeer in verband met die aanval wat Dries Nieuwoudt se lewe geëis het. Die twee staan tereg op aanklag van moord en roof met verswarende omstandighede.

ʼn Derde vermeende betrokkene verskyn na verneem word Maandag in die hof, terwyl die saak teen Makhubela en Maponyane tot volgende maand uitgestel is.

Maroela Media het vroeër berig die egpaar is die middag van Maandag 21 Desember op hul plaas naby Hammanskraal aangeval, maar is eers Woensdag te hulp gesnel nadat Mariana Nieuwoudt die deur van die badkamer waarin sy toegesluit was, kon oopbreek en hulp ontbied het.

Dries Nieuwoudt het kort daarna gesterf.

Sy seun, Andries, sê sy ma is nog geweldig getraumatiseerd deur die gebeure. Sy het egter goed herstel van haar beserings.

“Onder die omstandighede gaan dit goed met haar gesondheid.

“Ons almal se lewe is in ʼn oogwink op die kop gekeer.”

Casper Liversage, voorsitter van die Hammanskraal-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), het die polisie se ondersoekspan en die Nasionale Vervolgingsgesag geloof vir hul werk aan die saak.

Hy sê die polisie en GPF-lede het dag en nag gewerk om die vermeende aanvallers aan te keer, terwyl die saak boonop as ʼn prioriteit hanteer is. “Die polisie was absoluut toegewyd daaraan om die saak op te los. Ons wil vir almal betrokke baie dankie sê.”

Liversage het ook ʼn beroep op mense gedoen om by hul naaste GPF-strukture betrokke te raak. “Raak betrokke by jou bure en skakel in by die GPF – dit werk werklik,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Dirk ·

In die onveilige tye waarin ons leef is die gemeenskapslewe en sosiale lewe wat toentertyd uitgespeel het op die plein, die stadsaal, en die mark, die kerk-bazaar, en die stadsaal- besig om te kwein. Onlangs sien ek in Split in Kroasië die ou ooms sit en skaak speel op die markplein, terwyl die kinders hol en spring en swem naby die kaffeetjies op die kaai. Hier in Suid Afrika het ons nie meer ‘n kultuur van parke, wandelpaaie en pieknieks nie. En nou met virusse in die omtrek kwyn ons musiekfeeste en dies meer ook, en aanstonts sou daar dalk niks oorbly van enige kultuurlewe nie, daarom is dit so belangrik dat ons landbouskoue, vliegskoue, markte en enige ander gemeeskaps bewegings en organisasies probeer ondersteun sodat ons ‘n gevoel van samehorigheid kan behou, ‘n plekkie waar almal jou naam ken. Cheers!

Maggies ·

Om betrokke te raak verg nou al té veel vir meeste van ons moë nasie. Meeste voel dit help nie eens meer nie.
Ek wonder hoe lank gaan ons nog kan skou? Kermis hou is ook nie meer dieselfde nie. Mens kan nie eens meer in veiligheid stad toe gaan nie. Dit is in elk geval té onstellend om te sien hoe ‘n eens pragtige stad inmekaar tuimel.
Die parke is verstrooi met rommel en plakkers. Die wat omhein word is nou piekniek en dronklê plekke.
Mens kan nie eens meer in Bloemfontein die Orgideë-huis besoek sonder om op gebruikte kondome en gebreekte bottels te trap nie. Die dieretuin is gesluit en agter die heinings lyk dit soos ‘n wildernis so hoog staan die onkruid en gras.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.