Twee mans van Mpumalanga wat glo boere in Malelane tydens plaasaanvalle geteister het, se saak is na die Pretoriase hooggeregshofsitting in Nelspruit verwys.
Siyabonga Masilela en Ndumiso Mahlalela het Vrydag in die Tonga-landdroshof verskyn, berig ʼn Sapa-korrespondent. Hulle het al twee onskuldig gepleit op nege aanklagte wat moord, huisbraak, diefstal, roof met verswarende omstandighede en die besit van ammunisie insluit.
Landdros Sibonisiwe Sibuyi het aan die hof gesê die senior staatsaanklaer het reëlings getref dat die saak na die hooggeregshof verwys moet word. Die mans se aansoek om borgtog is vroeër afgekeur toe die ondersoekbeampte die hof daarop gewys het dat hulle ʼn gevaar inhou vir die publiek.
Masilela is op 13 Februarie in hegtenis geneem en Mahlalela een maand later.
Hulle saak sal op 26 September in die hooggeregshof aangehoor word.