Vermeende plaasdiewe vas toe boere ingryp

Foto ter illustrasie. (Argieffoto)

Vyf verdagtes is Dinsdagmiddag in hegtenis geneem nadat lede van die landbougemeenskap in Ogies, Mpumalanga, hulle omsingel het.

Die mans is ten tyde van die inhegtenisneming daarvan beskuldig dat hulle staalrame op ʼn plaas in die omgewing gebuit het.

Kol. Donald Mdhluli, polisiewoordvoerder, sê die polisie is kort voor 16:00 na ʼn plaas ontbied. By hul aankoms op die toneel het hulle ʼn groep mans, almal boere in die omgewing, aangetref wat vyf verdagtes in ʼn wit Isuzu-bakkie omsingel het.

Die polisiebeamptes is in kennis gestel dat die verdagte mans op die plaas aangetref is. Nadat hulle ondervra is, het dit aan die lig gekom dat hulle staalrame in hul besit het. Dié rame is na bewering op die plaas gesteel en was reeds opgesaag.

“Die verdagtes kon nie rekenskap vir die staal in hul besit gee nie en hulle is in hegtenis geneem,” sê Mdhluli.

“Daar is ook op die vermoedelik gesteelde goedere sowel as die voertuig beslag gelê.”

Die mans staan nou tereg op aanklag van diefstal en opsetlike sakebeskadiging. Die moontlikheid bestaan dat daar nog klagte by die klagstaat gevoeg kan word.

Volgens Mdhluli sal die mans, almal tussen die ouderdom van 18 en 29 jaar oud, eersdaags in die Ogies-landdroshof verskyn.

Lt.genl. Semakaleng Daphney Manamela, provinsiale polisiekommissaris in Mpumalanga, het die jongste inhegtenisnemings en samewerking deur die betrokkenes verwelkom.

“Hierdie inhegtenisnemings is ʼn bewys dat lede van die gemeenskap nie die wet in hul eie hande moet neem nie, maar eerder in samewerking met die owerhede moet werk.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Chris dupreez ·

MM julle moet asb meer klem begin lê op waar die skelms vandaan kom, of van die omgewing , suid afrika of buurlande

Frank ·

Mens weet nie of jy moet lag of huil oor Manamela se opmerking in die laaste paragraaf nie

Pietertjie ·

Die boere moet 99% van die polisie se werk doen in ‘n poging om hulleself te beskerm, dan moet hulle aan die polisie kan bewys dat die arme kriminele nie onregverdig behandel is nie.

Christine ·

Absolute bizarre opmerking van hom, want so beskerm hulle die kriminele en word hulle weer vrygelaat om die terroriste se werk te doen!

domheks ·

As die owerhede net ‘n voertuig en brandstof het om mee te ry! Maar cele het ‘n hele polisiemag om hom te beskerm! Dan is daar ook nie ‘n tekort aan brandstof nie.

Herman L ·

As die publiek nie die polisie se werk vir hulle doen nie, sal dit nooit gedoen word nie! Uistekende werk deur hierdie boere. Ek wonder net waar kry hulle die tyd om te boer as hulle die polisie se werk ook moet doen.

Suzette ·

Hulle sal seker net gewaarsku en weer vrygelaat word – dan gaan hulle net voort….

Sêmanet ·

Hoe lank gaan die boere nou tronk toe omdat hulle die verdagtes omsingel het?

Swerwer ·

Net weereens ‘n bewys dat ons mense op ons eie beter funksioneer as met n Cele vrot appel en sy gespuis

Rocco ·

Lt. Genl Manamela – dis die boere wat die misdadigers aangekeer het. Die polisie het slegs die inhegtenisnames gedoen. Die boere van die land, moet geprys word – maar word deur die regering in die steek gelaat

Harley Davidson ·

En dan word die skelms net op n ander plek afgelaai en almal vergeet van hulle want môre is n nuwe dag met nuwe skelms.

Di ·

Dis al wat ons in hierdie land kan doen om te oorleef is om SAAM te staan. Regering en polisie en te sleg om hulle werk te doen, useless verby

Lillian ·

Manamela as ek ‘n breker/steiler op my perseel kry, klap sy doppie! Jou blou uniform brigade is te onbevoeg en treurig om die publiek na behore te dien en beskerm so dít lê by ons om onsself te dien en beskerm.

Riekie ·

Dieselfde ‘vermeendes’ wat toeriste op die paaie teiken en vermoor. Vandag diefstal en die volgende dag moord. Die regering weet goed die probleem lê by die noordelike grens, maar niks word daadwerklik gedoen nie, want wat van die arme agtergeblewenes, selfs al is hulle nie SA burgers nie. More is die spul net weer op vrye voet besig met hulle kriminele dade.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.