ʼn Man wat vermoedelik ʼn polisiebeampte die afgelope naweek in Johannesburg doodgeskiet het, is self Maandag in die vroeë oggendure tydens ʼn skietery met die polisie dood.
Brig. Mashadi Selepe, Gautengse polisiewoordvoerder, het gesê die polisiebeampte is Saterdag noodlottig gewond terwyl hy en ʼn kollega ʼn roetinepatrollie in Hillbrow gedoen het.
“ʼn Vrou het die beamptes genader en gesê dat twee mans haar probeer beroof het,” het Selepe gesê. “Die beamptes het opgetree, die mans opgespoor en hulle genader. ʼn Worsteling het uitgebreek, skote is afgevuur en die beampte is noodlottig gewond.”
Die ander polisiebeampte is gewond en sterk in die hospitaal aan. Die verdagtes het die polisiebeampte wat gesterf het, se vuurwapen gesteel voordat hulle gevlug het.
Selepe het gesê die polisie het inligting opgevolg en Maandagoggend op die verdagtes se skuiling in Jeppestown toegeslaan. “Die verdagtes het op die polisie losgebrand en die polisie het teruggeskiet. Een verdagte is noodlottig gewond. ʼn Tweede verdagte is in hegtenis geneem. Die polisie het op die vuurwapen, wat tydens die eerste voorval gesteel is, beslag gelê.”
Nog ʼn polisiebeampte is Vrydagaand in Atteridgeville, wes van Pretoria, doodgeskiet. ʼn Vrou het die beampte, wat nie aan diens was nie, genader voordat twee mans skielik op hom losgebrand het. Hy is later in die hospitaal dood.
“In albei gevalle het ʼn vrou dus eers die beamptes genader, vermoedelik met ʼn vals klag, waarna twee mans op die polisiebeamptes losgebrand het. Die misdaadintelligensie-eenheid sal ondersoek instel of dit ʼn nuwe manier is om ons lede te teiken,” het Selepe vroeër aan Maroela Media gesê.
Meer as 50 beamptes is reeds sedert die begin van die jaar deur misdadigers doodgeskiet.
Hoop al die misdadigers word vas getrek. Polisie is hier om te beskerm. Ja nee die storie klink ook vir my dat die vrou deel het daaraan. Nog voordat ek verder gelees het , het ek al gedink die vrou is betrokke. Net baie bly die vuurwapen is opgespoor .